Tel die stukke op ná jou man se dood

Elsabé Daneel as Brenda in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In die kykNET-dramareeks Alles Malan probeer Brenda (Elsabé Daneel) haar lewe bymekaar hou ná haar man, Derik (Albert Maritz), se dood.

Die kinders probeer help waar hulle kan, maar hulle het ook hulle eie lewens en hartseer om mee tred te hou. Menige weduwee was al in Brenda se skoene. Hier is raad vir hulle asook raad vir dié wat weduwees wil ondersteun.

Moenie jou emosies onderdruk nie

Huil wanneer jy wil huil. Word kwaad wanneer jy kwaad wil word. Om jou hartseer, frustrasie en woede op te krop, gaan op die lang duur net meer skade aanbring. Ja, hierdie is ’n aaklige tyd, maar dit sal mettertyd beter word.

Kry iemand om mee te praat

Of jy met ’n vriendin, ’n predikant of ’n sielkundige praat – dit is altyd ’n goeie idee om iemand te kry om mee te praat. Jy mag dalk dink jy het dit nie nodig nie, maar almal van ons het een of ander tyd ’n skouer nodig om op te huil.

Moenie te vinnig groot besluite neem nie

Dit gaan tyd neem vir jou om tot verhaal te kom. Die administrasie wat saam met die dood kom, kan oorweldigend wees. Kry mense wat jy kan vertrou om jou te help, maar moenie te vinnig groot besluite neem nie. Pasop ook vir wolwe wat graag toeslaan op vroue wat weerloos is.

Meeste mense bedoel goed

Ja, daar gaan so hier en daar iemand vir jou iets sê wat jou dalk kan ontstel soos “ek weet presies waardeur jy gaan” of “moenie te hartseer wees nie, hy het ’n goeie lewe gehad”, maar weet dat meeste mense dit goed bedoel. Hou nietemin in gedagte: Jou en jou man se finansiële sake het niks met iemand anders te doen nie.

Neem beheer oor jou voordeur

Die kanse is goed dat besoekers jou gaan oorval. Jy mág nee sê. Tyd op jou eie om tot verhaal te kom is belangrik en daarom is dit nie nodig om die hele tyd beskikbaar te wees nie. Laat weet wanneer jy graag gaste wil ontvang of kry iemand na aan jou om beheer te neem van wie wanneer kom kuier.

Ivan Zimmermann en Elsabé Daneel in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Neem jou tyd

Dit is nie nodig om die dag ná die begrafnis weer te maak asof alles terug na normaal is nie. As jy nog nie reg is om selfs winkels toe te gaan nie, vra jou kinders of goeie vriende om dit vir jou te doen of doen jou aankopies aanlyn. Jy sal weet wanneer jy reg is om weer die wêreld daar buite in die oë te kyk.

Aanvaar hulp wanneer dit aangebied word

Van ’n kraan wat drup tot ’n bord kos. Jy is dalk ’n persoon wat nog altyd baie onafhanklik was of jou man was een van daardie vir wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Dit is nie ’n skande om vir hulp te vra nie. Onthou: Vele vroue was al voorheen in jou skoene en mense wat vir jou lief is, gaan graag wil help.

Alleen is nie noodwendig eensaam nie

Jy is dalk nou op jou eie, maar dit beteken nie jy kan nie dinge alleen doen nie. Gaan stap, gaan fliek of gaan drink koffie op jou eie om weer jou voete te vind. Sluit by groepe aan waar jy mense kan ontmoet wat in ’n soortgelyke situasie is. Besef dat jou lewe nooit weer dieselfde gaan wees nie, maar besef ook dat jy weer ’n holte vir jou voet kan kry.

Elsabé Daneel as Brenda in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Raad vir vriende en familie wat ’n weduwee wil ondersteun

  • Hou kontak. Al is dit net ’n boodskap op haar foon, laat haar weet jy is daar indien sy jou nodig het.
  • Moenie dadelik jou eie stories van verlies vertel nie. Gee die persoon tyd om te treur en troos haar so goed jy kan.
  • Maak ’n afspraak om iewers heen te gaan. Moet haar nie dwing nie, maar stel voor dat julle selfs net koffie gaan drink. Moenie leë beloftes maak nie.
  • Praat oor haar man. Dit sal haar dalk self laat praat oor goeie herinneringe en vir ’n oomblik van die hartseer laat vergeet.
  • Almal rou anders. Lees die tekens en ondersteun so goed jy kan. Liefde en ’n geduldige oor is gewoonlik genoeg.

Alles Malan is op Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv Catch Up beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anna Maria ·

Dankie vir die artikel. My man is 19 Desember 2020 oorlede alles het in n oogwenk verander. Jy verloor nie net jou eggenoot nie maar jou beste vriend. Daai persoon met wie jy alles kon deel is nie meer daar nie. Die lewe gaan aan dit staan nie stil en wag vir jou om jou “bearings” te vind nie. Ek is nou n enkel ouma van n tiener vir wie ek verantwoordelik is. God is goed vir die 2 van ons. Hy dra ons elke dag. “Time heal all wounds” Ja dit doen maar vir elke persoon op sy eie tyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.