Terugslae het nie Lalela se Mej. SA-drome gekelder

Lalela Mswane, die heersende Mej. SA én Mej. Supranasionaal. (Foto: Facebook/Lalela Mswane)

Lalela Mswane ken struikelblokke, kritiek en terugslae, maar geen uitdaging het haar voor of tydens haar bewindsjaar as Mej. Suid-Afrika gekelder nie.

Die 24-jarige het nie geskroom om haar man te staan nie en het deurlopend haar land se naam hoog gehou ondanks die herries wat om haar deelname aan Mej. Heelal en Mej. Supranasionaal ontstaan het.

“’n Belangrike les wat ek geleer het, is dat jy standvastig in jou oortuigings moet wees, al beteken dit dat jy net met enkele mense of selfs alleen op die ou einde moet staan,” het sy aan Maroela Media gesê.

Die heersende Mej. Suid-Afrika én Mej. Supranasionaal sal oor presies ʼn week een van die twee krone wat tans op haar kop rus aan ʼn nuwe plaaslike skoonheid oorgee.

Mswane, wat haar regsgraad in 2019 aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het, het besluit om jeugwerkloosheid ʼn groot fokuspunt van haar werk as Mej. Suid-Afrika te maak.

Die oomblik wat Mswane as Mej. Suid-Afrika 2021 gekroon is. (Foto: Verskaf)

Sy het aan Maroela Media vertel dat een van haar Mej. Suid-Afrika-hoogtepunte was om November 2021 derde in die 70ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie in Eilat, Israel, te geëindig het, ondanks die politieke opslae wat haar deelname veroorsaak het.

Die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, het destyds in ʼn verklaring gesê dat die regering hom van Mswane en Mej. Suid-Afrika gedistansieer het en alle finansiële ondersteuning aan haar deelname onttrek het weens die “gruweldade wat Israel teen Palestyne pleeg”.

Mthethwa was van mening dat Mswane dié kompetisie geheel en al moes boikot en nie dié “apartheidstaat” moes besoek nie.

Sy het egter in ʼn mediaverklaring verduidelik dat sy haar deelname as ʼn unieke geleentheid gesien het om by te dra tot ʼn proses van dialoog en vrede. Sy het sonder die regering se ondersteuning Suid-Afrika se naam hoog gehou en as tweede prinses uit die stryd getree.

Haar nasionale uitrusting was boonop ʼn wit duif.

Mej. Indië, Harnaaz Sandhu – wat vanjaar ʼn beoordelaar in die Mej. Suid-Afrika-eindronde is – het met die kroon weggestap.

Mswane in haar nasionale kostuum by Mej. Heelal. Dit simboliseer die duif van vrede. (Foto: Verskaf/Miss South Africa Organisation)

Oor dié prestasie sê Mswane dat Mej. Suid-Afrika se afgevaardigdes geen steen onaangeroer laat wanneer dit kom by die voorbereiding vir internasionale kompetisies nie. “Soveel tyd, moeite en opleiding gaan in die voorbereiding en ek dink dit word in die resultate weerspieël.”

Drie vroue van Suid-Afrika het al die Mej. Heelal-kroon gedra: Margaret Gardiner in 1978, Demi-Leigh Nel-Peters in 2017 en Zozibini Tunzi in 2019.

Mswane se “gunsteling” voormalige Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green, was nes sy ook ʼn naaswenner in dié kompetisie. “Tamaryn is vir my die toonbeeld van genade en vriendelikheid. Sy het die vermoë om mense gesien en gehoor te laat voel, ’n bewonderenswaardige eienskap. Sy is ook ’n dienaar van die mense deur haar beroep as mediese dokter. Ek is werklik geïnspireer deur haar.”

Mswane se bewind word natuurlik op ʼn hoë en ietwat onkonvensionele noot afgesluit.

Die jong Naomi Campbell-ewebeeld (soos aanhangers haar gedoop het) het haar Mej. Suid-Afrika titel behou nadat sy op 15 Julie in Pole as die nuwe Mej. Supranasionaal aangewys is.

Dié unieke situasie het klaarblyklik ʼn paar wenkbroue laat lig en talle sosialemediagebruikers het daarop gewys dat dit ongewoon vir ʼn Mej. Suid-Afrika-wenner is om haar land by twee internasionale kompetisies te verteenwoordig.

Chanique Rabe van Namibië het Mswane by Mej. Supranasionaal as haar opvolger gekroon. (Foto: Verskaf)

Naaswenners word gewoonlik ook die geleentheid gegun om aan een van dié kompetisies deel te neem en indien die heersende Mej. Suid-Afrika ʼn internasionale titel verower, word haar plaaslike titel aan ʼn naaswenner oorhandig.

In Mswane se geval kon sy aan twee kompetisies deelneem én albei haar titels behou.

Stephanie Weil, uitvoerende hoof van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie, het dié besluit in ’n verklaring verdedig en gesê die rede waarom dieselfde verteenwoordiger nie gewoonlik aan meer as een kompetisie tydens hul bewindsjaar deelneem nie, is omdat die datums dikwels bots.

Omdat die nuwe Mej. Suid-Afrika binne ʼn maand van Mswane se oorwinning in Pole gekroon word en haar werk as Mej. Supranasionaal haar toelaat om die meerderheid van haar tyd in SA deur te bring, het dit volgens organiseerders nie sin gemaak om ʼn tussentydse Mej. Suid-Afrika aan te wys nie.

Dié terugslae het egter ook nie die jong skoonheid – wat die eerste swart vrou is om die Mej. Supranasionaal‑kroon te dra – gekelder nie.

“Dit is iets wat ek nie ligtelik opneem nie. My wen dien as bevestiging dat daar plek vroue soos ek in skoonheidskompetisies is en dat ons drome net so geldig en nie buite bereik is nie.”

Vir haar is werklike skoonheid egter ook nie net oor die uiterlike nie, maar eerder oor iemand se hart en dade. “Ek het nog altyd geglo dat skoonheid gelyk is aan selfvertroue en om gemaklik in jou eie vel te wees. Om jouself te waardeer, te aanvaar en lief te hê en om as niks anders as jouself te wees nie, is die hoogste vorm van skoonheid in my oë.”

Mswane word by die OR Tambo-lughawe deur aanhangers begroet nadat sy as Mej. Supranasionaal gekroon is. (Foto: Indirect Media)

Die voormalige model, danser en regstudent se toekomsdrome strek ook baie verder as skoonheidskompetisies. “Ek het nog altyd ’n groot liefde vir die kunste gehad, so ek wil graag ’n loopbaan in die dramatiese kunste nastreef en ek sal ook graag eendag ’n gepubliseerde skrywer wil wees.”

Haar advies aan haar opvolger is om hard te werk en altyd opreg te wees.

“Die kroon gaan nie outomaties al jou drome bewaarheid nie, jy moet steeds vrek hard werk en dinge vir jouself laat gebeur. Bly ook altyd getrou aan jouself en moet nooit vergeet waar jy vandaan kom nie.”

Hoewel haar tyd as Mej. Suid-Afrika amper verby is, glo sy haar werk begin werklik nou eers.

Maroela Media het vroeër berig dat sy in Februarie vanjaar die #BeReady-veldtog van stapel gestuur het met die doel om werksoekers te inspireer en motiveer om eerder werkskeppers te word.

Die #BeReady-veldtog is ʼn gratis maandelikse aanlyn opvoedingsreeks waartydens Mswane met verskillende sakekenners, entrepreneurs en lede van die publiek gesels het om ontluikende entrepreneurs meer oor die basiese beginsels van die sakewêreld te leer.

Volgens Mswane was haar droom vir dié inisiatief nie net om op sakegroei te fokus nie, maar ook op sakebehoud en wou sy gemeenskappe op dié manier dien.

“Skoonheidskompetisies gaan nie net daaroor om mooi te wees en glansryke geleenthede by te woon nie. Plig en diensbaarheid behoort die kern van enige skoonheidskompetisie-titelhouer se doelwitte en werk te wees.”

Benewens die voortsetting van haar #BeReady-veldtog gaan sy as Mej. Supranasionaal ook werk maak van haar “From the Ground Up”-gemeenskapsinisiatief – wat ook ten doel het om die land se massiewe werkloosheidsprobleem te takel. “Ek wil mense leer om nie meer bakhand te staan nie, maar eerder hulle bemagtig om eienaarskap te neem deur hul eie entrepreneuriese pogings te begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.