‘The Bachelor SA’: ‘Dit was meer oor drama as liefde’

Rikki Brest (Foto: Verskaf)

’n Gunsteling onder The Bachelor SA-aanhangers, Rikki Brest, is tydens Donderdagaand se episode van dié realiteitsprogram sonder ʼn roos huis toe gestuur.

Rikki (35) sê sy is teleurgesteld dat haar ervaring op The Bachelor nie aan haar verwagtinge voldoen het nie.

“Ek kan nie sê dit was vir my ʼn lekker ervaring nie. Ek het nie vorige seisoene van die program gekyk voor ek daarop gegaan het nie en ek het in alle eerlikheid, en dalk bietjie naïef, gedink dit gaan werklik daaroor om liefde te vind,” sê Rikki vir Maroela Media.

“Dit was vir my ʼn verleentheid dat ek my lewe op ys gesit het om deel te neem aan iets wat meer oor drama as liefde gaan. Ek het nie myself daarvoor opgeteken nie.”

Rikki sê die deel van die ervaring wat sy wel geniet het, was dat sy ongelooflike vroue kon ontmoet met wie sy hopelik die res van haar lewe vriende kan wees.

Voordat Rikki gisteraand nie ʼn roos ontvang het nie, het sy laat hoor dat sy in elk geval nie weet of sy ʼn roos sal aanvaar as Marc dit vir haar aanbied nie. Sy vertel dat sy teen die tyd van die roos-seremonie vasbeslote was om nie sy roos te aanvaar nie, indien hy vir haar een sou gee.

“Ek het heeltyd in my kop gesê: ‘Asseblief moenie vir my ʼn roos gee nie, asseblief moenie vir my ʼn roos gee nie’, want ek wou nie deur die proses gaan om nee te sê vir die roos nie.

“Ek het geweet ek gaan daardie aand huis toe, ek het net nie geweet of dit van my of van Marc af sou kom nie.”

Rikki en Marc praat (Foto: Verskaf)

Rikki sê sy was nie hartseer om huis toe te gaan nie, omdat sy gevoel het haar tyd word gemors.

“Hy het nie die tyd geneem om my te leer ken nie, wat hartseer is, want ek was werklik daar vir liefde. Dis jammer dat hy nooit die régte ek kon ontmoet nie, omdat hy eerder met die gefrustreerde weergawe van my te doen gekry het, en dít is nie verteenwoordigend van wie ek is nie,” sê sy.

“Die deel van die program waar hy die families besoek, het al nader gekom en ek was nie gemaklik daarmee om iemand wat ek so swak ken, aan my familie voor te stel nie.”

Rikki groet vir Marc (Foto: Verskaf)

Rikki sê sy het aanvanklik van Marc gehou omdat hy in sy bekendstellingsvideo as The Bachelor gesê het hy soek na ʼn sterk en onafhanklike vrou, maar dat sy nou onseker is of dit is waarvoor hy soek.

“Dalk is dit omdat hy nie regtig van sterk en onafhanklike vroue hou nie, want hy kon ook nie vir Pasha hanteer nie en sy was ook baie sterk, of dalk het hy net nie van my gehou nie,” sê sy.

Rikki is tans steeds enkellopend. Sy sê sy is steeds op soek na liefde, maar dat sy versigtig is daarvoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.