The Bachelor SA: ‘Ek soek iemand om my lewe mee te deel’

Lee Thompson is SA se eerste ‘Bachelor’ (Foto: Verskaf)

Die eerste seisoen van The Bachelor Suid-Afrika sal heel gepas Donderdag, op Valentynsdag, op die kassie begin.

M-Net het in Julie aangekondig dat Suid-Afrika sy eie The Bachelor gaan kry en in Oktober bekendgemaak dat die voormalige Sharks-rugbyspeler, model en entrepreneur Lee Thompson (30) Suid-Afrika se eerste The Bachelor sal wees.

Thompson het aan Maroela Media gesê hy het ingeskryf vir The Bachelor omdat hy in die verlede te veel aandag aan sy loopbaan gegee het.

“Ek het dit as die perfekte geleentheid gesien om myself toe te wy aan my liefdeslewe. In die verlede moes dit gereeld terugstaan vir my rugby, modelwerk of loopbaan. Ek het my liefdeslewe afgeskeep, en nou wil ek die regte mens vind om my lewe mee te spandeer,” het hy gesê.

Thompson meen hy het dié ondervinding aangepak met die regte voornemens, en dit is om ʼn vrou te ontmoet met wie hy kan trou.

“Ek is gereed om ʼn gesin te begin en ek dink dit is die perfekte tyd om dit nou te doen. Ek het net nog nie die lewensmaat gehad om dit mee te begin nie, so ek is opgewonde daaroor,” sê hy.

“Ek het nie The Bachelor begin om ʼn meisie te kry of ʼn vriendin te maak nie, ek wou ʼn vrou hê; iemand met wie ek my lewe kan deel. Ek soek ʼn vrou om mee te trou wat die ma van my kinders gaan wees.”

Lee Thompson (Foto: Instagram)

Thompson het ook laat glip dat hy deur sy The Bachelor-ondervinding wél liefde gevind het.

“Wat ek in ʼn lewensmaat soek, is ʼn mooi hart, iemand wat omgee en vriendelik is. Iemand wat hou daarvan om te lag en om pret te hê. Iemand wat vir my aantreklik is, en iemand by wie ek myself kan wees en gemaklik kan voel,” het Thompson gesê.

Thompson ontmoet tydens Donderdagaand se episode die 25 vroue wat almal ʼn kans staan om moontlik aan die einde van die seisoen sy verloofde te raak. Hulle gaan verskeie uiters romantiese uitstappies in verskillende dele van Suid-Afrika hê.

“Dit is ʼn regte liefdesverhaal wat uitspeel,” het Thompson oor die reeks gesê. “Daar is baie emosies betrokke, maar daar is ook ʼn bietjie drama en heelwat passie op die skerm.”

Lee Thompson is SA se eerste ‘Bachelor’ (Foto: Verskaf)

The Bachelor is al vir 22 seisoene in Amerika vervaardig en die reeks is te sien in meer as 30 ander lande. In 2017 was The Bachelor die bekendste reeks in Amerika, Kanada, Duitsland, Nieu-Seeland, Swede, Finland, Rusland, die Oekraïne én Switserland.

Suid-Afrikaanse kykers wat die Amerikaanse reeks volg, sal weet dat The Bachelor oor een man gaan wat probeer om ʼn lewensmaat te vind. Hy ontmoet 25 enkellopende vroue wat gereed is om liefde te vind en gaan dan op talle romantiese afsprake met hulle terwyl hy geleidelik sy opsies verminder totdat hy sy perfekte maat vind in ʼn dramatiese slotepisode – wat gewoonlik met ʼn verlowing eindig.

The Bachelor SA begin op Donderdag 14 Februarie om 19:00 op M-Net, kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

HESTER ·

Hoekom is dit belaglik.? ASJY NIE VAN DIT HOU, MOET NIE DIT KYK NIE.

Lizelda ·

Stem 100% saam met jou Anoniem. Maar kyk gaan ons kyk. :-)

Peanut ·

Ai …………..hoe wens ek darem nou ek was tien jaar jonger. Mooi was nog nooit lelik nie!

Hello ·

Nou hoekom is dit DAT alle nuwe programme net op die ville pakket van dstv wys! Dis so belaglik!

dubbel standaarde ·

Snaaks hoe baie vrouens die as vermaak bestempel ……. Maar laat n ou nou haar vet vry en se sorry dit gaan nie werk nie dan is dit verkeerd. niks van die show is reg nie. Elke 2de dag n ander girl vat vir n spin . Dis n grap

Swartbees ·

Soos die kameras en ligte af gesit word, so ook gaan daai 100% true love af in die drein.

Eve ·

Mooi gesê Hester…… As jy nie daarvan hou nie, moet dit nie kyk nie!

Mads ·

Hahahaha ek stem,,,,, Sjoe hierdie tannie se swakke hart :)
A s ek maar 20 jaar jonger was :) :)

eva ·

wonder net…………..aan watter vereistes moes die dames voldoen om deel te wees?????

Lindtjies ·

Sjoe maar hy is sag op ‘n moeder se oog. Lee glo my vry daar buite wag die ideale meisie vir jou. god sal haar op jou pad stuur.

Selma Steyn ·

kies tog net n meisie van “kleur” ander sit ons weer met n rasistiese kwessie…..

Franna ·

Ag nee Mads. Ek wens ek was 40 jaar jonger. Seker suurdruiwe mans wat so negatief is. Sooo sag op die oog

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.