‘The Bachelor SA’ kondig eerste deelnemers aan

Marc Buckner (Foto: Verskaf)

M-Net het die name van twee van die vroue wat sal meeding om die hart van Marc Buckner, Suid-Afrika se eie The Bachelor, bekend gemaak in aanloop tot die tweede seisoen wat op 13 Februarie begin.

Dié twee is tot dusver die enigste van die 22 vroue wat vanjaar aan The Bachelor gaan deelneem wie se name bekend is. Wie die res van die vroue is, sal met verloop van tyd aan die publiek bekend gemaak word.

Een van die deelnemers is Qiniso van Damme, suster van die bekende DA-parlementslid Phumzile van Damme.

Qiniso is 26 jaar oud, ʼn feminis en besig met haar meestersgraad in sosiale antropologie aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is ook aangewys as een van die glanstydskrif Cosmopolitan se volgende-generasie vroueleiers.

Qiniso het al telkens haar lyf model gehou vir advertensies en het al op televisie verskyn – sy is met ander woorde gemaklik voor die kamera.

Qiniso van Damme (Foto: Verskaf)

Payal Sewbalak, oftewel Pi, is die tweede deelnemer wat aan die publiek bekendgestel is. Pi is 30 jaar oud en ’n sakeontwikkelingsbestuurder.

Pi het in 2019 Kilimandjaro uitgeklim en is ʼn groot diereliefhebber. Sy het twee honde, Bella en Freddie. Pi se groot droom is om haar eie diereskuiling te bestuur.

Payal Sewbalak (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Marc soek ʼn vrou wat gedrewe is, maar genoeg vryetyd beskikbaar het vir reis, omdat hy sélf so lief is daarvoor.

Hy het wel gesê hy weet nie presies waarna hy op soek is nie, omdat hy in die verlede nie altyd die regte besluite in dié verband geneem het nie.

Lees hier alles wat jy moet weet oor Marc voor The Bachelor SA begin.

The Bachelor SA begin op 13 Februarie om 19:00 op M-Net, kanaal 101. Die eerste episode sal 90 minute lank wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.