The Bachelor SA se 10 beste oomblikke – en waar om dit te kyk

Lee Thompson (Foto verskaf deur Showmax)

Seisoen 1 van The Bachelor SA het al die verrassings, kinkels en draaie gehad waarvoor ons gehoop het. Ons was vasgenael voor ons skerms en die goeie nuus is dat die hele seisoen nou op Showmax beskikbaar is vir fuifkyk.

“Ek het van die begin af geweet dit gaan nie maklik wees nie, omdat ’n paar harte gebreek gaan word,” sê Suid- Afrika se eerste TV-vrygesel, Lee Thompson. “Maar ek het ook geweet dat daar spesiale oomblikke sal wees wat ek vir altyd met my sal saamdra.”

Hy was baie angstig tydens die eerste episode. “Ek sou 24 vroue vir die eerste keer ontmoet en het geen idee gehad wat om te verwag nie. My uiteindelike doelwit was om iemand te vind wat gaaf is, omgee, aantreklik is, en ’n wonderlike humorsin het … iemand by wie ek net myself kan wees en saam met wie ek ’n gesin kan begin.”

Wil jy gou weer loer na die 24 vroue? Klik hier.

Hier is ons tien beste oomblikke uit die reeks wat kykers se oë laat rek het – die beste, die slegste en dié wat jou sommer ineen sal laat krimp …

1. Eerste indrukke

Die vroue het hul beste voet voorgesit om Lee se aandag in episode 1 te trek, maar sommiges het dinge uit die staanspoor ’n bietjie ver gevat.

Daneal Catelle, ’n lojale ondersteuner van Liverpool, het gedink die hubare Lee sal voor haar swig ná hulle saam ’n sokkerbal rondgeskop het, maar toe ontdek sy Lee is ’n ondersteuner van Liverpool se geswore vyand, Manchester United. Oepsie!

Jenna Carmen Lithgow het haar huiswerk deeglik gedoen en opgedaag met kaneelsuiker, want sy het geweet Lee kan nie nee sê vir bloubessiepannekoek nie.

“Hopelik sal hy dit vir my maak,” het sy gegiggel, terwyl sy terug is na die Bachelor Mansion, die herehuis waar die vroue tuisgegaan het.

Die vreemdste oomblik was toe Kelly Tiegan met hoë verwagtinge, geklee soos ’n bruid met ’n sluier opgedaag het. Toe vra sy boonop vir Lee om haar kousband te verwyder, waar sy ’n briefie vir hom weggesteek het.

2. Dubbelspel

Ons het gesê daar wag ʼn verrassing, nè? Maar wat van ’n tweeling?! Lee was net so sprakeloos soos die kykers toe Sandy en Lucy Thompson in episode 1 opgedaag het, identies geklee in dieselfde blinkgoue rokke. “Dit was nogal onverwags om ’n tweeling te sien,” het Lee later erken.

3. Wegholliefde

Met soveel vroue onder een dak wat almal meeding om dieselfde man se hart, maak dit net sin dat daar ’n bietjie katterigheid in die Bachelor Mansion sal wees. En daar is altyd daardie één mens wat krap waar dit nie jeuk nie … soos Thenjiwe Bhengu. Sy het in episode 2 vir Michelle Reddy van valsheid beskuldig.

“Jy gee voor om iets te wees wat jy nie is nie,” het sy die geskokte Michelle R toegesnou. Intussen het Thenjiwe bloot gesê wat al die ander vroue ook gedink het … en daarmee het die arme Michelle R se emosies die oorhand gekry. Sy het uit die huis gevlug, in die produksiespan se motor gespring en vir die vroue geskree: “Los my alleen!”

4. Bel die dokter

Maar ai, as die wiel die dag draai, dan dráái hy! Thenjiwe het vir nóg meer drama gesorg toe Lee nié vir haar ʼn roos gegee het nie. Sy is uitgestem en het op die plek flou neergeslaan. Annalene Maduramutha wou nie afsteek by Thenjiwe nie. Sy is ook aan die einde van episode 3 huis toe sonder ’n roos, waarop sy vir Lee gegil het: “Hierdie is alles twak!”

5. Waterheld

In episode 3 het Lee ridderlik vir Gina Myers te hulp gesnel tydens die waterhindernisbaan. Sy het geval, waarop Lee haar in sy gespierde arms opgetel het. “Ek dink Lee is ’n ware held. Hy het ’n vrou in nood gehelp,” het Michelle R geswymel, effens groen van jaloesie.

6. Ek loop!

Mbali Mkhize, ’n selferkende introvert, het kykers, Lee en die produksiespan verstom gehad toe sy in episode 4 besluit het om tou op te gooi. Sy het haar bes gedoen om haar potensiële bruidegom beter te leer ken en sy en Lee was nogal na aan mekaar. Toe Lee tydens ’n fotosessie nie genoeg aandag vir haar gegee het nie, het sy teruggekruip in haar dop. “Die fotograaf het my eenkant toe geskuif en Lee het my nie gevra om te bly nie. Dis tóé dat ek besef hy is nie die een vir my nie,” het Mbali verduidelik.

7. Geheime dief

Die katnaels het gewys in episode 4 toe America Gopie gesê het iemand het haar dagboek gesteel. Volgens haar was daar sensitiewe inligting in die geheime joernaal, waaronder ’n foto van haar gewese kêrel en ’n brief wat hy vir haar geskryf het. Toe Lee haar oor die verlore dagboek uitvra, kon nie eers America se fladderende wimpers hom oortuig dat sy die waarheid praat nie.

8. ʼn Slang in die paradys

Lee was nie bereid om die geheim van die verlore dagboek sommer net te laat vaar nie. Op ’n dubbele afspraak met Kelly en America in episode 6 het hy aanhou vra wat van die joernaal geword het. Toe hy tevrede is met die antwoord, het hy kykers se koppe behoorlik laat draai. “Ek kry die gevoel ek kan jou nie vertrou nie,” het hy gesê en daarmee is albei die vroue uit die Bachelor Mansion geskop. Wie die dagboekdief was, bly tot vandag ’n digbewaarde geheim.

9. Liefdesliedjies

Die vroue – en musiekliefhebbers by die huis – is omtrent bederf in episode 7 toe die Britse sanger Calum Scott die Bachelor Mansion besoek het om vir die oorblywende deelnemers te sing en hul volgende afspraakkaart af te lewer. Te oulik!

10. Ontmoet die familie

Die ergste deel van enige verhouding is wanneer jy die vrou se familie moet ontmoet. Dié deel is Lee gespaar tot amper die einde. In episode 10 het hy sy bes gedoen om Jozaan Digue se familie te beïndruk. Die sjarmante Lee is warm verwelkom, maar die deel wat jou uitasem sal laat is toe hy vriende gemaak het met ’n nuwe baba in die Digue-familie. “Ek is lief vir kinders en kan nie wag om soveel as moontlik te hê nie,” sê Lee. Goed, almal saam: Ahhhhhhh!

Waar om The Bachelor SA aanlyn te kyk

Fuifkyk die hele seisoen van The Bachelor SA op Showmax. As jy nog nie ’n intekenaar is nie, kan jy aanteken vir ’n gratis proefperiode van 14 dae. Daarna sal toegang tot ’n wavrag plaaslike en internasionale reekse, rolprente en dokumentêre programme jou net R99 per maand kos.

As jy ’n DStv Premium-intekenaar is, is Showmax ingesluit in jou intekening – besoek net die webwerf om aan te teken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.