‘The Bachelor SA’: Top-vier word drie

Gillian Seetso (Foto: Verskaf)

Nadat Marc die afgelope twee weke die vier oorblywende vroue se families ontmoet het, het hy uiteindelik besluit om vir Gillian Seetso (26) sonder ʼn roos huis toe te stuur al het sy ontmoeting met haar familie goed verloop.

Slegs Marisia van Wyk, Jessica Ross en Bridget Marshall ding nog mee vir Suid-Afrika se tweede Bachelor se hart.

Gillian vertel aan Maroela Media dat sy nie verwag het om nie ʼn roos van Marc te kry nie. Sy was onder die indruk hulle is “op dieselfde bladsy”.

“Ek was geskok en teleurgesteld en terselfdertyd verras. Ek het verwerp gevoel,” sê sy.

“Ek het gedink ons vorige afspraak het goed gegaan, so ek het nie gedink ek gaan ʼn roos kry nie. Hy het nooit genoem dat iets fout was nie. Uit ons gesprekke het ek gedink alles gaan goed tussen ons. So teen die tyd wat hy die rose uitgedeel het, het ek vrede gehad.”

Marc het tydens sy ontmoeting met Gillian se familie gehoor dat sy baie tyd op sosiale media deurbring om byvoorbeeld grimering-tutoriale of reis-vlogs aan te bied. Volgens Marc was dit teenstrydig met wat Gillian in hul gesprekke oor sosiale media te sê gehad het.

Gillian sê wel dat sy nie verstaan hoekom hy so daaroor reageer het nie.

“Ek het op daardie oomblik gedink hy stuur my huis toe as gevolg van my ma of die afspraak wat nie vir hom lekker was nie, maar toe ek die episode kyk, sien ek dit gaan oor sosiale media.”

“Ek dink dit is bietjie onregverdig, want hy gebruik self ook sosiale media, al die ander vroue ook.”

Gillian groet Marc (Foto: Verskaf)

“Ek het nooit vir hom gesê ek hou nie van sosiale media of dat ek nie daarop is nie. En buitendien, sosiale media is nie my lewe nie, ek het ʼn werk en ek studeer. Sosiale media is net ʼn stokperdjie.”

Sy sê dit het haar ontstel dat hy die hele tyd tydens hul laaste afspraak niks gesê het oor dat iets hom pla nie, maar dat hy dit dan vir die kamera vertel.

“In plaas daarvan dat hy met my praat daaroor, en hy hét die geleentheid gehad om dit te doen, het hy eerder reeds sy eie kop opgemaak.”

Gillian sê sy het ʼn toekoms saam met Marc gesien en dat sy baie van hom gehou het, maar nadat sy na die episodes gekyk het en gehoor het wat hy sê, besef het dat sy nie die vrou vir hom is nie.

“Ek was altyd oop en eerlik met hom, maar hy het nie dieselfde met my gedoen nie,” sê sy.

Gillian sê sy het deur hierdie ervaring geleer dat jy nie almal gelukkig kan maak nie en dat dit beter is om net jouself te wees.

Sy is tans enkellopend en sê sy het nog nie deur vir ware liefde gesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.