‘The Bachelor SA’: Twee vroue gaan sonder roos huis toe

Mulesa Lumina (Foto: Verskaf)

Marc Buckner het Donderdagaand, ná ’n spanningsvolle skemerkelkie op The Bachelor SA, twee deelnemers met leë hande huis toe gestuur.

Nadat daar talle onsekerhede van die deelnemers se kant af was oor hoe Marc voel en wie hy gaan kies, het hy vir Mulesa Lumina (27) en Qiniso van Damme (26) die trekpas gegee.

Mulesa, wat van die begin af Marc se aandag getrek het, en ’n duidelik voorloper was, sê haar verhouding met Marc het bloot die einde van sy pad bereik.

“Nadat ek die gesprek met hom by die skemerkelkie gehad het, het ek geweet dit is verby. Ek dink nie hy weet altyd hoeveel hy met sy gesigsuitdrukkings verklap nie. Maar die manier waarop hy na my gekyk het, het my laat weet dat dit die einde van die pad is,” sê sy aan Maroela Media.

Hoewel Mulesa teleurgesteld was, was sy “gelukkig en tevrede” met sy besluit.

“Ek het geweet dit gaan gebeur en ek was nie ontsteld daaroor nie. Ek het vrede. Ons was maar net nie op dieselfde bladsy nie en dit was tyd om die verhouding te beëindig,” sê sy.

Mulesa gee vir Marc ‘n handdruk (Foto: Verskaf)

Nadat Marc nie vir Mulesa ʼn roos wou gee nie, wou sy ook nie meer vir hom druk of soen nie. Sy het eerder vir hom ʼn handdruk aangebied. Sy vertel dat sy dié besluit geneem het omdat sy nie wou voorgee nie.

“Ons het reeds gesoen tydens die skemerkelkie, en ek het net nie gevoel dat ons dit weer hoef te doen nie, aangesien dit reeds die einde was. Dis beter om dit net vriendelik en lig te los,” sê sy.

Qiniso sê sy het ook teen die tyd van die roos-seremonie vrede gemaak met wat ook al gaan gebeur, maar was steeds geskok oor die verloop daarvan.

Qiniso van Damme (Foto: Verskaf)

“Daar is niks wat ek kan doen of niemand wat ek kan wees behalwe myself nie, en as hy nie belangstel nie, kan ek nie sleg daaroor voel nie. Dit is Marc se reis net soveel soos dit my eie is,” sê sy.

Qiniso sê haar emosionele reaksie met Marc se keuse was weens twee redes. Eerstens, omdat sy moes totsiens sê aan die ongelooflike vroue wat sy ontmoet het, en tweedens omdat haar en Marc se hoofstuk afsluit en hulle nooit sal weet hoe dit kon geëindig het nie.

“Ek is oor niks spyt nie. Dit was ʼn ongelooflike ervaring, anders as enigiets wat ek al ooit gedoen het. Ek het so baie geleer oor myself, oor vrouwees en oor sisterhood. Al het ek nie liefde gevind met Marc nie, is ek dankbaar vir die ervaring, so stresvol soos dit was.”

Qiniso groet Marc (Foto: Verskaf)

Qiniso en Mulesa het dit eens dat dit ʼn aangename ervaring vir hulle was en dat hulle lewenslange vriendskappe met die ander vroue in die huis gesmee het, en juis daarom was dit steeds vir hulle die moeite werd.

Qiniso en Mulesa is albei tans steeds enkellopend en op soek na liefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Grootste klomp snert wat daar nog as n tv program gemaak is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.