‘The Bachelorette’: Nog ʼn man waai vrywillig

Dylan Heneck (Foto: M-Net)

Dylan Heneck, ʼn voorloper in The Bachelorette SA, het hom tydens Donderdagaand se episode vrywillig aan dié werklikheidsreeks onttrek. Dit volg nadat Keelan MacManus slegs ʼn week vantevore dieselfde gedoen het.

Dylan, wat ʼn voorloper in die program was, het vroeg in die episode reeds gewroeg met gevoelens dat hy nie ʼn romantiese band met Qiniso het nie. Hy het ook vantevore gesê hy is bekommerd daaroor of hulle ʼn egte weergawe van Qiniso sien.

“Dylan sien nie ʼn toekoms saam met my wat ʼn romantiese verhouding betref nie. En so hartseer soos wat ek is in hierdie oomblik, respekteer ek sy besluit,” het Qiniso gesê.

“Dit gaan nie net oor wat ek wil hê nie, maar ook oor wat jy wil hê, en ek gaan jou nie smeek om te bly nie.”

Hy het uiteindelik besluit om uit te tree om die ander mans, wat wel sterk oor haar voel, ʼn regverdige kans te gee.

“Dit het ʼn punt bereik in die proses waar ek die ander mans in die huis al goed leer ken het. Ek het geweet hoekom hulle daar is en wat hulle voornemens is – en ek was nie honderd persent daar nie,” sê hy aan Maroela Media.

“Ek het ook gesien wat dit aan haar gedoen het toe Keelan weg is, so uit liefde en respek wou ek nie langer bly as ek nie oortuig is van ʼn toekoms saam nie.”

Dylan groet Qiniso (Foto: M-Net)

Dylan sê hy is steeds tevrede met sy keuse om die program te verlaat omdat hy besef hy is nie nou op ʼn plek in sy lewe waar hy in ʼn verhouding wil wees nie.

“Ek is nog baie gelukkig om enkellopend te wees en fokus eerder op vriendskappe, om die mense in my lewe te koester, om myself beter te leer ken en vas te stel wat ek regtig wil hê. My prioriteite het verander en ek het besef dit is nie die regte tyd vir my om ʼn romantiese maat te soek nie.”

Dylan sê hy het al met Qiniso gepraat nadat hy die program verlaat het en daar is geen kwade gevoelens tussen hulle nie.

Daar is tans agt mans oor wat na Qiniso vry. The Bachelorette SA is elke Donderdag om 19:30 op M-Net kanaal 101 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.