‘The Bachelorette’: Qiniso kies haar top-2

Qiniso kies vir Swazi en Gareth as haar top-2 (Foto: M-Net)

Die top-2 mans vir die eerste seisoen van The Bachelorette SA is Henk “Swazi” Nel en Gareth Ehret, nadat Qiniso van Damme Donderdagaand besluit het om Justin Lakey huis toe te stuur.

Justin sê dit was ʼn bittersoet oomblik toe Qiniso Gareth se naam, eerder as sy eie naam, uitroep.

“Mens begin al dink aan hoe goed kon gewees het en hoe dinge kon gelyk het as dit uitwerk tussen ons twee, maar in die oomblik was daar ook net ʼn groot vlaag van dankbaarheid wat oor my gekom het.

“Ek het besef dit is waar ons reis tot ʼn einde kom, maar ek was dankbaar dat ek so ver gekom het en dat ek dit kon ervaar. Ek het vrede en dit was ʼn ongelooflike tyd,” sê hy aan Maroela Media.

Qiniso groet Justin (Foto: M-Net)

Justin sê hy het na elke roos-seremonie gegaan met bepaalde verwagtings om homself te beskerm. Hy meen hy het altyd homself voorberei dat hy moontlik nie ʼn roos kan kry nie, want anders sou die teleurstelling net nog groter wees.

Daarom was hy voorbereid op die teleurstelling toe dit eindelik met hom gebeur, hoewel hy dit nie verwag het nie.

Vir Justin was sy tyd op The Bachelorette ʼn wipwa van emosies en was hy gedwing om aan homself te werk.

“Dit is uitdagend in ʼn huis saam met sowat 20 mans. Daar is testosteroon en ego’s in die huis én daar was ʼn gevoel van kompetisie omdat almal daar is om dieselfde rede. Ek kan dit net met ʼn koshuis by ʼn seunskool vergelyk.

Justin Lakey (Foto: M-Net)

“Maar dit druk jou in verskillende rigtings in en dit laat jou vinnig baie oor jouself leer.”

Hoewel Justin nie liefde gevind het op The Bachelorette nie, sê hy tog hy is nou dolgelukkig en dat hy ná die verfilming van die program wel liefde weg van die skerms gevind het.

In volgende week se episode van The Bachelorette sal Qiniso haar keuse tussen Gareth en Swazi maak. Die finale episode is Donderdag om 19:30 op M-Net-kanaal 101 te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.