‘The Bachelorette SA’: Hier is die gelukkige paartjie

Qiniso gee vir Gareth haar finale roos (Foto: M-Net)

Suid-Afrika se eerste Bachelorette, Qiniso van Damme, het Donderdagaand haar finale roos vir Gareth Ehret gegee, en dié twee is nou ʼn paartjie.

In die laaste episode van The Bachelorette SA het Gareth en die naaswenner, Henk (Swazi) Nel, Qiniso se familie ontmoet. By dié ontmoetings het Qiniso se gesin moeilike vrae aan die mans gestel oor onder meer hul waardes, lobola en hul toekoms saam met Qiniso.

In Qiniso en Swazi se finale afspraak het Qiniso prontuit vir Swazi gevra of hy al verlief is op haar, en hy kon haar nie ʼn definitiewe antwoord gee nie. Hy het wel gesê hy kan sien dat hy in die toekoms lief kan raak vir haar.

Qiniso en Swazi op hul laaste romantiese afspraak (Foto: M-Net)

Tydens Gareth en Swazi se finale afsprake het hulle die geleentheid gekry om oornag saam met Qiniso by ʼn hotel oor te bly, en hulle het albei van die geleentheid gebruik gemaak.

“Ek is op soek na een man, en ek het my hart gevolg in my besluit. Ek het dit nie sien kom nie, so ek weet hy was ook verras,” het Qiniso gesê.

Swazi, wat die eerste man was wat aan die begin van The Bachelorette SA oor die rooi tapyt gestap het om vir Qiniso te ontmoet, was kalm en rustig toe Qiniso met hom opbreek en sy belofte-ring van die hand wys.

“Ek het ons albei sien groei in hierdie proses; deur mekaar en saam met mekaar. Jy weet ek is lief vir jou, werklik. Ek is so bly ek het jou ontmoet. Hierdie is een van die moeilikste besluite wat ek al moes maak, maar ek kan nie die ring aanvaar nie,” het sy gesê.

Qiniso en Swazi breek op (Foto: M-Net)

Swazi het ʼn tranerige Qiniso getroos en gesê sy moenie sleg voel nie, want dit is die regte besluit vir háár.

“Ons sou ʼn ongelooflike paartjie gewees het saam, maar ek respekteer haar besluit,” het hy gesê.

Qiniso het na die tyd gesê sy het gevoel asof sy dalk meer vir Swazi gevoel het as wat hy vir haar gevoel het, en daarom was sy bang om seer te kry as sy hom sou kies. Swazi het op sy beurt bevestig wat sy gevoel het deur te sê dat hy nie ʼn romantiese liefde teenoor haar gevoel het nie.

Qiniso en Gareth op hul laaste romantiese afspraak (Foto: M-Net)

Aan die ander kant het Gareth sy liefde aan Qiniso bevestig tydens die laaste roosseremonie.

“Dit was ʼn onverwagte verassing vir my. Ek het nie gekom met die idee dat veel gaan gebeur nie, maar wat tussen jou en my gebeur het, het my geskok. Ek dink nie ek het al hierdie tipe band met enigiemand gehad nie.

“Elke oomblik wat ons saam is groei my gevoelens vir jou. Ek voel baie verseker daarin om te sê ek is lief vir jou – daar is geen twyfel nie,” het hy gesê.

Qiniso het gesê sy het gehoop en gebid vir liefde aan die einde van haar The Bachelorette-reis en dat sy dit gevind het. “Ek kan nie my lewe sonder jou insien nie. Ek is ook lief vir jou,” het sy gesê.

Die paartjie het aan Jason Greer, aanbieder van The Bachelorette SA, gesê hulle pas perfek en dat hulle uitsien na fase twee van hulle verhouding waar hulle nou in die openbaar kan uitgaan.

Qiniso en Gareth is nou ‘n paartjie (Foto: M-Net)

“Ek voel geseënd, want hy is my beste vriend en ons is só gelukkig saam. Dit is net die perfekte konneksie,” het Qiniso gesê.

Qiniso en Gareth was baie emosioneel toe hulle oor hul verhouding ná The Bachelorette gepraat het.

“Ek voel of ek kan huil. So baie het verander sedert daardie oomblik [toe sy my gekies het], maar terselfdertyd het niks verander nie. Ons liefde het net gegroei en gegroei. Ek voel geëerd en ek is so, só lief vir jou,” het Gareth aan Qiniso gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

M-woord ·

So selfs die suster van n gesoute politikus verkies die leliewit kleur, bo die van haar kultuur? Baie interesant…

tweeling ·

Is dit dan so moeilik om andersins aandag te kry. Kry maar solank jou lobola bymekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.