‘The Crown’-vervaardigers in sop oor betaling van akteurs

Claire Foy en Matt Smith (Foto: Facebook)

Left Bank Pictures, die vervaardiger van die Britse televisiereeks The Crown, is in omstredenheid gehul nadat dit die afgelope naweek aan die lig gekom het dat dié maatskappy hom ook aan salarisongelykheid skuldig gemaak het.

Volgens The Independent het Left Bank Pictures bewerings bevestig dat Claire Foy, die aktrise wat die rol van koningin Elizabeth II in die reeks vertolk, ʼn kleiner salaris verdien het as Matt Smith wat die rol van prins Phillip in die reeks vertolk – dít terwyl Foy die hoofrol vertolk en twee keer meer dialoog as Smith het.

Volgens The Sun, wat dié nuus eerste bekendgemaak het, is Smith ʼn groter salaris as Foy betaal omdat hy aanvanklik meer ervaring as sy gehad het. Die salarisongelykheid het egter voortgeduur selfs nadat Foy ná die eerste seisoen verskeie toekennings vir haar rol verower het.

Foy het na bewering $40 000 per episode verdien. Dit is nie bekend hoeveel Smith betaal is nie.

Left Bank Pictures het volgens die BBC in ʼn amptelike verklaring om verskoning gevra dat Foy sowel as Smith hulself nou “in die middel van’n mediastorm bevind”.

“Ons wil om verskoning vra aan Clairy Foy sowel as Matt Smith, briljante akteurs en vriende, wat hulself onskuldig in die middel van dié mediastorm bevind. Claire en Matt is ongelooflike talentvolle akteurs, nes die res van die rolverdeling van The Crown, wat onvermoeid gewerk het om met integriteit en deernis lewe aan hul karakters te gee. As die vervaardigers van The Crown neem ons verantwoordelikheid vir begrotings en salarisse.

“Die akteurs is nie bewus van wie wat betaal word nie en kan nie verantwoordelik [vir die salarisongelykheid] gehou word nie. Ons almal het ʼn verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie kwessies aangepak word, en as een van die voorste produksiemaatskappye wil ons ʼn bydrae tot die debat hieroor maak,” lui die verklaring.

Suzanne Mackie en Andy Harries, verteenwoordigers van Left Bank Pictures, het bevestig dat dié salarisongelykheid vanaf die derde seisoen van die reeks reggestel sal word. Dit is nog nie duidelik of Foy ekstra vergoed sal word vir die vorige twee seisoene van die reeks nie.

Claire Foy en Matt Smith (Foto: Facebook)

Intussen het Foy aan Entertainment Weekly gesê sy is “verras” om in die middel van die omstredenheid te wees. “Ek is nie verbaas oor die belangstelling [in die salarisongelykheid nie] omdat’n vrou die hoofrol in die drama vertolk,” het sy gesê. “Ek is ook nie verbaas dat mense die storie gelees het en gedink het ‘o, dit is nogal vreemd’ nie. Ek weet egter Matt stem saam met my dat dit baie vreemd is om jouself in die middel van dié drama te bevind waarvoor jy glad nie gevra het nie.”

Mackie het aan die BBC bevestig dat Left Bank Pictures in gesprek met die Time’s Up-veldtog en met die gelykheidsorganisasie ERA 50:50 is om voortaan salarisongelykheid by die produksiemaatskappy te voorkom.

Dié omstredenheid volg kort nadat dit aan die begin van die jaar aan die lig gekom het dat die aktrise Michelle Williams minder as 1% van haar All the Money in the World-mede-ster, Mark Wahlberg, se salaris verdien het om tonele vir dié rolprent oor te skiet. Wahlberg het later sy salaris aan ʼn niewinsgewende-organisasie geskenk.

The Crown is gebaseer op ware gebeurtenisse en handel oor die lewe van koningin Elizabeth II sedert die 1940’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pikkie Crous ·

Elizabeth is in 1953 gekroon as kiningin. Sy was nie reeds in die 40’s gekies nie. Maak seker van jul feite. Ek het ‘n glasbeker ontvang op skool op haar kronings dag soos alle ander kinders.

Sune van Heerden ·

Dagsê Pikkie

Ons vra om verskoning, die sin is net verkeerd geredigeer.
Die reeks handel oor die lewe van koningin Elizabeth sedert die 1940’s (ingesluit haar heerskappy sedert haar pa se afsterwe in Februarie 1952).

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.