‘The Lord of the Rings’ binnekort ʼn televisiereeks

The Lord of the Rings (Foto: Facebook)

Die aanlyn-handelsgroep Amazon het vandeesweek bekend gemaak dat hy die internasionale televisieregte vir JRR Tolkien se The Lord of the Rings gekoop het en beplan om dié verhaal in ʼn televisiereeks te omskep.

Dié reeks, wat deur Amazon Studios vervaardig sal word, sal volgens ʼn verklaring van die maatskappy “alternatiewe storielyne verken” wat Tolkien se The Fellowship of the Ring voorafgaan. Meer as een seisoen van dié reeks sal vervaardig word.

Die maatskappy het gesê hy het besluit om die reeks te vervaardig omdat Tolkien se boeke die verbeelding van verskeie generasies vasgevang het.

“Ons is oorstelp dat Amazon, wat al lankal daartoe verbind is om literatuur te ondersteun, die tuiste gaan wees van die eerste The Lord of the Rings-televisiereeks,” het Matt Galsor, ʼn verteenwoordiger vir die Tolkien Estate and Trust, gesê. “Die Amazon-span het ongelooflike idees om onontdekte en alternatiewe storielyne van Tolkien se boeke na die kassie te bring.”

The Lord of the Rings-flieks, onder leiding van regisseur Peter Jackson, het sowat $6 miljard by die loket verdien. Die flieks het in totaal 17 Oscar-toekennings gewen.

Talle mediaberigte dui daarop dat die maatskappy hoop vir ʼn treffer-televisiereeks soortgelyk aan Game of Thrones. Die agtste en laaste seisoen van dié gewilde reeks sal na verwagting laat 2018 of vroeg 2019 gebeeldsaai word.

The Lord of the Rings-reekse sal deur Amazon Prime Original, die maatskappy se aanlynverskaffer van TV-programme en flieks, uitgesaai word. Kykers moet ʼn intekenaar van dié diens wees om die reeks te kan kyk.

Die reeks word vervaardig in samewerking met Tolkien Estate and Trust, Harper Collins en New Line Cinema, ʼn afdeling van Warner Bros. Entertainment.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kind ·

Het die hele reeks boeke gelees. Probeer asb net om die reeks meer kinder vriendelik en minder bar te maak as Game of Thrones. Was na die 1st episode gewalg!

Juan Olivier ·

Ek is ‘n groot aanhanger van die flieks so ek sal die graag wil kyk. Ek hoop net hulle doen dit ordentlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.