‘The Lord of the Rings’ nou ʼn reeks

Die eerste foto wat deur Amazon vrygestel is van die nuwe ‘The Lord of the Rings’-reeks. Die reeks het nog nie ‘n amptelike titel nie. (Foto: Amazon Prime Video)

Amazon het Maandag aangekondig dat sy The Lord of the Rings-reeks, wat ʼn reuse-begroting het en geskoei is op die fantasie-sage deur JRR Tolkien, in September 2022 wêreldwyd bekendgestel word.

Die stromingsdiens hoop dat die reeks, wat nog nie ʼn amptelike titel het nie, die sukses van die reeks Game of Thrones sal verbysteek. Die eerste episode sal volgende jaar op 2 September beskikbaar wees.

Amazon het in 2017 die televisieregte vir The Lord of the Rings vir ʼn geraamde $250 miljoen (sowat R3,6 miljard) aangekoop en in ʼn verklaring gesê die verfilming van die eerste seisoen van die reeks is Maandag in Nieu-Seeland afgehandel.

“Die reeks begin met nuwe avonture, in ʼn tyd van relatiewe vrede, duisende jare vóór die gebeure in JRR Tolkien se The Hobbit- en The Lord of the Rings-boeke,” lui die verklaring.

Cynthia Addai-Robinson. (Foto: Facebook)

Volgens Amazon sal die eerste seisoen se episodes weekliks uitgereik word, en dié aanlyn reus het ʼn paar foto’s van die reeks op sosiale media gedeel.

Die rolverdeling sluit in Cynthia Addai-Robinson, bekend vir haar rol in die reeks Spartacus, en Robert Aramayo, wat die rol van die jong Eddard Stark in Game of Thrones vertolk het.

Uit die multiseisoen-verwerking van Tolkien se literêre werke wat in die vroeë 2000’s in ʼn suksesvolle rolprentfranchise ontwikkel het, hoop Amazon om munt te slaan vir sy stromingsplatform, Amazon Prime Video, teen mededingers soos Netflix en Disney Plus.

Amazon is deur Jeff Bezos gestig en het in Mei vanjaar die MGM-ateljees vir $8,45 miljard (sowat R122 miljard) aangekoop.

Die aankope van dié amper eeu oue Hollywood-ateljee het Amazon se stromingsbiblioteek versterk, en het onder meer die James Bond– en Rocky-franchises by die platform gevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gerhard ·

Die eerste flieks was briljant. Al drie het menigte Oscars gekry. Hobbit was n effense teleurstelling. Gevoel soos “butter scraped over too much bread”. Kom ons hoop die reeks is weer beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.