The Weeknd hou ‘baanbrekerskonsert’ in Super Bowl-halftyd

The Weeknd sing tydens sy Pepsi Super Bowl-halftydvertoning by die Raymond James-stadion in Tampa, Florida. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Die popster The Weeknd het Sondagaand tydens die jaarlikse Super Bowl-halftydvertoning by die Raymond James-stadion in Tampa, Florida, voor ʼn gehoor van sowat 25 000 toeskouers opgetree.

Groot name soos Lady Gaga, Beyoncé, Shakira, Jennifer Lopez, Katy Perry en Diana Ross het oor die afgelope 55 jaar Amerikaanse voetballiefhebbers tydens dié gesogte halftydvertonings vermaak.

Die Kanadese kunstenaar moes vanjaar weens streng Covid-19-regulasies vir die eerste keer ooit hoofsaaklik vanuit die stoele eerder as op die veld optree. Stoele wat oop was weens die sosiale afstand wat deur die sowat 25 000 toeskouers gehandhaaf moes word, is opgevul deur “toeskouers” wat uit karton gesny is.

Die 30-jarige sanger, wie se regte naam Abel Tesfaye is, het ʼn medley van sy bekendste liedjies soos “Can’t feel my face” en “The Hills”, asook ʼn paar snitte soos “Save your tears” en “Blinding Lights” vanuit sy jongste album, After Hours, gesing.

Dié album het in November verlede jaar opslae gemaak toe dit nie ʼn enkele benoeming vir vanjaar se Grammy-toekennings ingeoes het nie.

Die Raymond James-stadion met The Weeknd se halftydvertoning tydens die Super Bowl-wedstryd. (Foto: Kevin C. Cox/Getty Images/AFP)

Volgens berigte het The Weeknd $7 miljoen (sowat R105 miljoen) van sy eie geld aan die produksie van 12 minute lank bestee. Die bekendstelling van sy nuwe album getiteld The Highlights loop hand aan hand met sy verskyning by die NFL-wedstryd se gewilde konsert.

Verlede jaar se halftydvertoning deur Shakira en Jennifer Lopez is deur meer as 103 miljoen mense wêreldwyd, meer as die 99,9 miljoen wat vir die wedstryd ingeskakel het, gekyk.

Miley Cyrus het vanjaar tydens die voorvertoning van die wedstryd opgetree en het onder meer Blondie se “Heart of Glass” en Dolly Parton se “Jolene” gesing.

Amanda Gorman, die 22-jarige digter wat ʼn oorspronklike gedig by pres. Joe Biden se inhuldiging voorgelees het, het voor die wedstryd weer ʼn oorspronklike gedig voorgelees.

Die Tampa Bay Buccaneers het Sondag die NFL-voetbaleindstryd teen die Kansas City Chiefs op hulle tuisveld in Florida met 31-9 gewen onder leiding van die quarterback Tom Brady.

Kyk hier na die volledige konsert.

Bronne: BBC, NBC Sport

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.