Theodore Jantjies: Van ‘Laan’ na rugbyveld

Theodore Jantjies as Jordan James in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

Vir 14 jaar lank was Theodore Jantjies bykans elke weeksaand op die kassie te sien in SABC 2 se gewilde sepie 7de Laan as Xander Meintjies, die ernstige prokureur wat bitter selde sonder ʼn snyerspak en ʼn das te sien was.

Nou het hy dié formele drag verruil vir ʼn Stryders-sweetpak en rugbytokse as die nuwe kondisioneringsafrigter, Jordan James, in die kykNET-sepie Getroud met rugby. Jantjies vertel dit is verfrissend om ʼn rol te vertolk wat hy nog nooit voorheen gespeel het nie.

Jantjies het in Julie by die Getroud met rugby-span aangesluit. “Dit is heerlik om terug te wees in die ateljee en om te bou aan ʼn nuwe karakter. Die kykers gaan saam met Jordan groei soos wat die karakter en die storie ontwikkel. Dit is vir my lekker om die pad saam met die kykers te stap,” sê hy.

“Jordan was getroud, maar hy het sy gesin in ʼn motorongeluk verloor. Daarna het hy weggehardloop en in Nieu-Seeland gaan woon en werk het, maar hy was altyd ʼn groot aanhanger van die Stryders en toe hy die pos by dié span kry, was dit vir hom ʼn bestiering om terug te kom na Suid-Afrika.

“Omdat hy van die situasie af weggeskram het, het hy dit nooit werklik in die oog gekyk nie en sukkel hy nog om die gebeure te verwerk. Dit haal hom nou ʼn bietjie in,” verduidelik Jantjies sy karakter se agtergrond.

Theodore Jantjies en David Louw in ‘Getroud met rugby’. (Foto: kykNET)

Hy verklap dat Jordan vriendskappe smee met Bibi (vertolk deur Stephanie Baartman) en Kristien (vertolk deur Marlee van der Merwe). “In ʼn mate is Bibi aanvanklik sy enigste vriendin en ʼn skouer vir hom om op te huil, maar hy en Kristien vind ook aanklank by mekaar omdat sy op ʼn stadium ook na die buiteland gevlug het. Of daar ʼn romanse gaan ontwikkel sal kykers maar moet wag en sien!”

Volgens Jantjies is Jordan ʼn gemoedelike karakter om te speel. “Hy is ʼn lieflike mens wat sy werk ernstig opneem en ʼn passie vir rugby het. Hy is ʼn gemaklike mens om in die omgewing te hê en dit is vir my lekker, want vir jare moes ek ʼn karakter vertolk wat kantoor toe gaan en pakke dra en nou kan ek in ʼn sweetpak saam met die manne op die veld uitdraf.”

Theodore Jantjies as Jordan James in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

Al het hy bekendheid verwerf vir sy rol in 7de Laan, hoop hy dat hy uiteindelik die beeld van Xander Meintjies heeltemal kan afskud en volkome Jordan James se oefenskoene kan volstaan.

“Vir my is dit ʼn skoon bladsy, ek begin heeltemal van voor af en ek wil bloot net lewe gee aan dié nuwe een. So eerlik en opreg as moontlik. Ek glo as ek harde werk insit, sal ek mense in die nuwe karakter kan laat glo en dit is vir my ʼn heerlike uitdaging.”

Hy voeg by dat hy reeds deel voel van die Getroud met rugby-familie. “Dit is wonderlik as mense jou met ope arms ontvang en jy weet hulle wil jou regtig graag deel van die span maak. Overberg-produksies is ʼn ongelooflike span wat almal op dieselfde bladsy is. Dit is werklik soos ʼn hegte familie.”

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Sien baie uit na wat met Jordan se karakter gaan gebeur en met wie hy gaan opeindig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.