Therese Bam terug op kassie in nuwe Afrikaanse reeks

Therese Bam as Amanda in ‘Kompleks’. (Foto: kykNET)

Meer as ʼn dekade nadat Therese Bam die laaste keer in ʼn dramareeks te sien was, is sy terug op die kassie in die splinternuwe Afrikaanse kykNET-reeks Kompleks.

Die storie speel af in twee heelalle. In die een heelal is daar die twee tieners, Sean en Mika, vertolk deur Arthur Falko en Melissa Myburgh. Bam vertolk die rol van Mika se ma, Amanda, teenoor Paul du Toit as Mika se pa.

Sean se ouers, vertolk deur Milan Murray en Stian Bam, leef in stilte, terwyl Mika se ouers op skei staan.

Deur ʼn sameloop van omstandighede ontmoet die twee tieners mekaar en alles verander. Tussendeur lukrake gesprekke, planete soek en ʼn gedeelde liefde vir musiek, begin ʼn verhouding wat albei se lewens sal definieer.

In ʼn ander heelal, soortgelyk aan die eerste een, is Sean en Mika heelwat ouer. Sean, vertolk deur Armand Aucamp, is ʼn aktuaris en sy vriende dink hy is alleen. Mika, gespeel deur Roeline Daneel, is ʼn weduwee en haar dogter dink sy is alleen. Dan ontmoet Sean vir Belinda (Greta Pietersen) en Mika vir Tristan (Ivan Botha). Albei oorweeg dit om liefde nog ʼn kans te gee, maar in hul agterkoppe is daar ʼn wintervakansie van baie jare gelede en die vergete droom van ʼn vriendskap.

Die twee wêrelde word ook oorbrug deur Koos Kombuis wat as verteller van die reeks optree en sy musiek word ook in die loop van die reeks gebruik.

“Van die begin af weet ʼn mens dat Sean en Mika nie by mekaar opgeëindig het nie, maar ʼn mens weet nie wat tot al die gebeure gelei het nie,” verduidelik Bam in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Die twee tieners kom albei uit huishoudings waar daar altyd drama is en waar die ouers nie perfek is nie.”

Bam vertel die post-produksiespan het grafiese elemente bygevoeg soos selfoonboodskappe met emotikons waarby sy glo jong mense veral aanklank sal vind. “Ek dink tog Kompleks is iets vir die hele gesin, want die skryfwerk is so ongelooflik.”

Volgens Bam is sy baie opgewonde om deel van die Kompleks-span te wees. Sy was destyds as Katryn in Song vir Katryn te sien, asook as Cherise in Home Affairs en die feeks Astrid in die kykNET-sepie Villa Rosa.

“Amanda is ʼn skoonheidsdeskundige met haar eie salon. Sy kom baie selfsugtig voor, maar sy is hoe sy is vir ʼn bepaalde rede. Sy is eintlik net so om haarself te beskerm,” verduidelik Bam.

Dié reeks is uit die pen van Louis Pretorius, wat ook reekse soos Die Boekklub en Fynskrif geskryf het. “Ek is mal oor hoe die karakters geskryf is, want elkeen van hulle is deurdag. Die teks het my dadelik geboei en toe ek begin lees kon ek nie ophou nie.”

Sy vertel dit was ʼn heerlike ervaring om tyd saam met die jonger akteurs op die stel deur te bring. “Ek kon my aan hulle verkyk en het so lekker vir hulle gelag. Dit was hulle eerste groot rolle en dit was wonderlik om te sien hoe toegewyd hulle is. En hulle uitstekende akteurs.”

Tinarie van Wyk Loots, bekend vir haar rol as Lara van Wyk in Fynskrif, het die regie van die Kompleks behartig. Bam is vol lof vir Van Wyk Loots se benadering tot regie.

Paul du Toit en Therese Bam in ‘Kompleks’. (Foto: kykNET)

“Sy was van dag een af baie duidelik oor wat haar visie is en sy is so passievol. Ek is so beïndruk met al die werk wat sy gedoen het, my mond het skoon oopgehang. Sy het alles deeglik beplan, tot die kleurskemas wat die verskillende gesinne verteenwoordig. Sy was so gaaf op die stel en omdat sy self ʼn aktrise is, het sy so mooi met die akteurs te werk gegaan. Ons was deel van ʼn lieflike, ontspanne span en heeltyd gevoel ons is in goeie hande,” sê Bam.

Bam som Kompleks op as “vars”. “Ek is nuuskierig om te sien hoe dit gaan lyk op die skerm. Die tekste en lokprent is ongelooflik en ek is baie trots om deel te wees van hierdie projek.”

Kompleks begin op Dinsdag 22 September om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.