Tiaan is weer aan’t kook op kassie

Tiaan Langenegger (foto: verskaf)

Bekroonde TV-sjef Tiaan Langenegger is binnekort weer op televisie te sien, en dit boonop met heerlike disse wat in ’n japtrap deur Jan Alleman aanmekaar geslaan kan word.

“Kykers kan uitsien na lekker, maklike resepte wat nie intimiderend is nie. Dit is vir my heerlik om resepte met mense te deel,” so vertel Langenegger oor sy nuutste kassie-kuier, Tiaan Proe.

Langenegger, wat ook die titel van wynmaker agter sy naam het, het bekendheid verwerf toe hy in 2013 die eerste seisoen van Kokkedoor gewen het. Hy het sedertdien in die harte van Suid-Afrikaners gekruip en sy lyf aanbieder gehou op onder andere Tiaan Onthou en Tiaan Kook.

“Ons het ʼn ander benadering tot hierdie reeks gehad. [Tiaan] Onthou was meer nostalgies, jy weet Ouma se kos. In hierdie reeks het elke episode sy eie identiteit.”

Hy het verder aan Maroela Media vertel dat dit vir hom belangrik is dat mense geïnspireerd sal voel om terug te keer kombuis toe nadat hulle die program gekyk het.

“Die inperkingstyd het mense gedwing om weer kos te begin maak. Ons wil mense weer lus maak om tyd in die kombuis deur te bring. Dit geld ook vir mense wat nie lief is vir kosmaak nie. Kosmaak moet lekker wees; dit moenie soos werk voel nie.”

Die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, is in nege dae deur Homebrew Films in Kaapstad verfilm. Dit was boonop nauurs, aangesien Langenegger onlangs sy lyf sjef begin hou het by ʼn private skool in Somerset-Wes waar hy om en by 400 honger mondjies daagliks moet voed.

“Ek hou van uitdagings!”

Hy het verder vertel dat sy vriend Neels van Jaarsveld ook kom inloer het en saam gebraai het vir een van die episodes.

“Die lekker ding is dat mense die bestanddele wat in die reeks se resepte gebruik is in enige supermark gekoop sal kan word. Ons benadering was om kosmaak makliker vir mense te maak.”

Volgens Langenegger is een van die grootste foute wat tuiskokke maak om die resep te oordink.

“Die oomblik wat jy ʼn hele storie daarvan maak, is dit reeds minder lekker.”

Langenegger moedig mense aan om met op hom op sosiale media te gesels oor hul avonture in die kombuis.

“Ek antwoord mense graag op sosiale media. Daar is nie ʼn ding soos ʼn dom vraag nie.”

Hy en sy vrou, Nadia, het sowat twee jaar gelede ʼn dogtertjie ryker geword. Dié is reeds ʼn aanhanger van pa se kos.

“Haar gunstelinggereg sover is kerrie,” vertel die pa trots.

  • Tiaan Proe skop 5 April vanjaar af en sal elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, op die kassie kuier.
  • Volg Langenegger hier op Facebook en op Instagram.

Skakel in: 5 April 2022 – Tiaan Proe

LEES HIER ????‍???? ????‍????Jy ken hom as een van die #Kokkedoor-wenners, TV-sjef én aanbieder – en nou is Tiaan Langenegger eersdaags terug op die kassie in #kykNET se nuwe kookprogram, #TiaanProe. ???? https://bit.ly/TiaanProeTiaan Langenegger – Chef Tiaan

Posted by kykNET on Wednesday, March 16, 2022

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.