Tiaan Rautenbach takel ‘ernstiger rol’ in ‘Binnelanders’

Tiaan Rautenbach en Ilne Nienaber in ‘n toneel uit ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

George Bester, die nuwe karakter in die kykNET-sepie Binnelanders, staan tans voor ʼn kruispad wat kykers met hulle hande in hulle hare laat.

George, vertolk deur Tiaan Rautenbach, se suster Elana (Ilne Nienaber) is per ongeluk deur sy viertrekvoertuig teen ʼn muur vasgepen en ʼn kraan het haar een nier heeltemal vergruis.

Dit blyk nou dat George die enigste een is wat ʼn gepaste nierskenker vir Elana sou wees en sal sodoende haar lewe red, maar George se ongure vrou, Nellie (Beáte Opperman), steek ʼn stokkie voor George se planne om sy suster te help.

Dié is agter George se suster, Maddie, se twee kinders – en dalk ook hulle trustfonds – aan en weier dat George sy nier aan Elana skenk.

George, wat effe ruggraatloos is en nie sy man teen Nellie kan staan nie, is nou uiters verward oor wat hy gaan doen. Gaan hy na die ysige Nellie luister of gaan hy sy suster help?

Rautenbach het al ʼn draai op al wat ʼn sepiestel is gemaak. Die rol van George is egter sy grootste sepierol tot op hede.

“Terwyl ek op die stel was, het ek nie heeltemal besef hoe pateties George is nie, maar nou dat ek daarna kyk kan ek sien hoekom kykers hom en sy vrou so verafsku,” vertel Rautenbach laggend aan Maroela Media.

Tiaan Rautenbach en Beáte Opperman as George en Nellie Bester in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Aan die einde van die dag glo ek tog George se intensies is goed en dat hy regtig net wil doen wat Maddie se laaste wense was, en dit was om na haar kinders om te sien. Hy besef ook dit is die regte ding om te doen om sy nier vir Elana te skenk, maar Nellie staan in sy pad.”

Hy vertel hy en Opperman het baie gelag tydens die verfilming oor hulle storielyn. “Nellie is baie lelik met George en dit het ons gereeld laat giggel.”

Rautenbach, wat meestal op die verhoog as akteur en sanger te sien is, vertel dit was ʼn “heerlike” ervaring om deel te wees van die Binnelanders-familie.

“Dit is regtig ʼn lieflike werkomgewing en almal is baie gaaf. Dit was beslis een van die stelle waarop ek nog die lekkerste gewerk het en dit was ook die gewigtigste rol wat ek onlangs vertolk het. My rolle is gewoonlik lawwer en meer uitspattig,” vertel hy.

Rautenbach was onder meer in pantomimes soos Aspoestertjie en Doringrosie te sien. In Aspoestertjie het hy en Mortimer Williams die rolle van die nare stiefsusters teenoor Karlien van Jaarsveld in die hoofrol vertolk.

Hy bieg dat hy in die regte lewe ʼn goeie kombinasie van laf, soos sy pantomime-karakters, en ernstig, soos George Bester, is.

Tiaan Rautenbach, Clint Brink en Beáte Opperman in ‘Binnelanders’. (Foto: kykNET)

“Dit was lekker om in die rol van George te delf, al is hy nou nie kykers se gunsteling-karakter nie. Dit was lekker om hom te leer ken en dit sal heerlik wees as George later weer kan terug keer na die storie – dalk dié keer met ʼn nuwe vrou,” skerts Rautenbach.

Hy vertel dit was ʼn wonderlike ervaring om teenoor Opperman te speel. “Ons het baie goed oor die weg gekom en het mekaar eintlik eers later ontmoet, aangesien ons aan die begin net eensydige telefoongesprekke geskiet het. Ek was baie verlig en verheug om te vind dat sy fantasties is en ons het baie lekker saam gespeel.”

Hy vertel sy werk is meestal sanggedrewe en dat hy lank in die Barnyard-teater opgetree het en ook in ʼn rockgroep sing. Hy bespeel ook die ukelele.

Rautenbach woon sedert Januarie verlede jaar in ʼn kothuis op die akteurspaar Neels en Eloise Clasen se erf in Johannesburg. Eloise vertolk die rol van dr. Julia Wessels in Binnelanders.

“Neels is my oudste vriend en ons ken mekaar sedert universiteitsjare. Ons kom al jare saam en nou is ek so te sê deel van hulle familie.”

Binnelanders is elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.