Tickey en Selmé-Louise: 10 jaar later steeds dolgelukkig

Tickey en Selmé-Louise van Wyk saam met hulle kinders, Malea en George. (Foto: Verskaf)

Tickey en Selmé-Louise van Wyk saam met hulle kinders, Malea en George. (Foto: Verskaf)

Sommige mense is skepties oor of ʼn mens regtig liefde kan vind op ʼn televisiereeks, maar Tickey en Selmé-Louise van Wyk het bewys dit kán gebeur – én dit kan hou!

Dit is vanjaar tien jaar sedert dié boer van Beaufort Wes en die onderwyseres van Nelspruit mekaar in 2008 op die kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou ontmoet het en hulle is nog net so dolgelukkig soos toe, vertel Selmé-Louise in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media.

Baie het in tien jaar gebeur, vertel sy, soos hulle kinders se geboortes en die skuif wat hulle van die plaas af dorp toe gemaak het sodat die kinders kan skoolgaan en sy kan skoolgee.

“Tickey boer nog voltyds met merinoskape. In die Karoo is niks mos naby nie, so ons het besluit dit is beter dat hy die op-en-af-ryery doen, eerder as wat ek met die kinders heen en weer van die plaas af skool toe en terug ry. Tickey het darem ʼn hele paar besighede ook op die dorp en dit is nou verskriklik droog, so hy is baie besig met die voer ook,” vertel Selmé-Louise.

Tickey en Selmé-Louise van Wyk. (Foto: Verskaf)

Tickey en Selmé-Louise van Wyk. (Foto: Verskaf)

Sy vertel hulle kinders, George (8) en Malea (3), hou haar baie besig. “George is bitter oulik. Hy is ʼn baie besige seuntjie en is volgende jaar in gr. 3. Malea is nou weer ʼn regte dogtertjie wat van grimering en hoëhakskoene hou. Ek en Tickey geniet ons kinders verskriklik baie en Tickey is ʼn wonderlike, goeie pa. Hy bestee graag tyd saam met hulle deur in die swembad te baljaar.”

Volgens Selmé-Louise kyk hulle na elke reeks van Boer soek ʼn vrou en herleef hulle gereeld hul eie ervaring op die program deur hul seuntjie wat vrae vra oor hoe sy ouers ontmoet het op die program.

“Hy kyk natuurlik saam en dan vra hy baie vrae, wat nogal lekker is. Ek het ʼn plakboek gemaak met foto’s en uitknipsels en die brief wat ek vir Tickey geskryf het. Ons is baie dankbaar vir die program, want ek sou nooit saam met Tickey op die plaas beland het as dit nie daarvoor was nie.”

Sy sê alhoewel dit moeilik is om ʼn gunstelingboer uit die jongste reeks te kies, is dit wonderlik dat hulle ʼn vroulike boer ingesluit het by die reeks. “Ek haal my hoed af vir haar dat sy dié ding aanpak,” sê sy oor boer Toanette.

Mense herken hulle nie meer so vreeslik op straat soos destyds nie, vertel sy. “Die afgelope naweek was ons op George en ons kon by een plek agterkom die mense weet wie ons is, maar ons het baie plooie bygekry intussen, so mense herken ons nie meer so baie nie,” skerts sy.

Vanjaar het hulle beplan om Kersfees net rustig saam met familie te deur te bring. “Ons deel glad nie geskenke uit die jaar nie, want ons wil vir die kinders leer dat Kersfees oor die Here gaan. Die kinders is mal oor die see en die strand, so ons sal ook ʼn plan maak om hulle oor die vakansietyd soontoe te neem sodat hulle daar kan baljaar.”

“Ek en Tickey is regtig baie gelukkig, dankbaar en geseënd. Die huwelik is natuurlik mos nou nie net maanskyn en rose nie, maar die harde klippe kou bly die moeite werd!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J ·

Baie geluk met julle 10de huweluksherdenking. Julle is geseen met 2 pragtige kinders iik in die 10 jaar. Hou die blink kant bo vir die volgende 90 jaar.

Pop ·

Ek kyk al van daai tyd af Boer en is soooo bly as ek iets van al die gelukkige paartjies lees. Tiekie hulle sal altyd die gunstelinge bly. Pragtige paartjie?

Philip ·

Pragtig en baie geluk. Dit blyk dat die Here saam is met julle in die huis en daarom gaan dit goed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.