Tien uit tien vir Tinarie

Tinarie van Wyk Loots (Foto verskaf)

Die bekroonde aktrise Tinarie van Wyk Loots is vanaf 2 Junie te sien in die nuwe M-Net drama, Desert Rose. Haar rol as Rosie is nie net dié van suster of dogter nie, maar van planmaker en stukke-optel-en-weer-bymekaarsit, skryf Maryke Roberts.

Hoe gepas dat die gevierde akteur, Stian Bam, in sy huldigingstoespraak by vanjaar se kykNET Fiëstas in Maart vir Tinarie die Sinjatuur-toekenning aangee met die metafoor uit die Egiptiese mitologie van die gode, Isis en Osirus. Osirus was oor die wêreld gestrooi en Isis het al die stukke gaan optel en hom heel gemaak. “Dit is wat jy as mens doen – jy tel almal rondom jou op en jy maak iets nuuts met jou werk, jou lewe en jou vriende.”

Die Sinjatuur-toekenning dien as aanmoediging en erkenning vir kunstenaars en is ook vanjaar aan Albert Pretorius en Christo Davids gegee.

Tinarie sê dis altyd ʼn voorreg om erkenning te kry vir die werk wat jy doen. “Toekennings bly maar ʼn subjektiewe ding, en ʼn mens onthou dat dit nie die maatstaf van waarde is wat aan die werk geheg moet word nie en dat jy in jou wese saam met die mense waarmee jy skep en werk, die ware waarde weet en voel.”

Tinarie is geen vreemde op ons skerms nie en was onlangs te sien in die M-Net reeks, Recipes for Love and Murder en die afgelope paar jaar in verskeie treffers op die kassie, waaronder 4 Mure, Fynskrif, Die Spreeus, Dwaalster en Onder die Suiderkruis.

In die kykNET reeks, Nêrens, Noord-Kaap, speel sy die ma, Katja, wat met haar dood ʼn groot gat in haar man en drie seuns se harte los. Sy is ook een van die mede-regisseurs van die nuwe reeks, Die dinge van ʼn kind, wat tans op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Dit is gegrond op die gelyknamige boek deur die bekroonde skrywer, Marita van der Vyver. Tinarie sê regie is ʼn wonderlike nuwe uitdaging, en sy geniet dit ongelooflik baie.

Maar terug by Desert Rose. Dis in Kammieskroon in die Noord-Kaap verfilm. Wanneer Eben Greyling (Kai Luke Brümmer), die jong seun van ʼn afwesige pa ʼn versoek van die gesin se weldoener, Eugene van As (Ben Voss), weier om te gaan visvang, breek dit die boeie van ʼn langtermyn-ooreenkoms. Maar die skuld sal nie verdwyn nie en Van As gaan nie vergeet nie. Iemand moet betaal.

Tinarie as Rosie in “Desert Rose”. (Foto verskaf)

Die gevolge van die verbreekte ooreenkoms ruk handuit, want die gesin word gedwing om die chaos wat na hul kant toe kom, te oorkom. Dit is die verhaal van die ontneemdes en die vergetes in ʼn woestyndorp. Die storie is geïnspireer deur Americana – snelweë, eetplekke en vulstasies – en netelige gesinsdramas met ʼn eienaardige hart, waar die gewone en die buitengewone mekaar by ʼn kruispad in die woestyn ontmoet.

Die pa, ʼn eertydse musiekster in die Noord-Kaap, Freddie ‘Fingers’ Greyling word vertolk deur Neil Sandilands, wat ook baie van die musiek in die reeks geskryf en uitgevoer het, begelei deur Theo Crous en Georgio Frazer Barry. Sy gesin word verder gespeel deur Amalia Uys in die rol van Jana, Christia Visser as Ishara en Daniah de Villiers as Lucy, Freddie se kleindogter. Brandon Daniels is die plaasbestuurder, Piet.

Tinarie vertel dat die karakters almal papnat gesweet is in Desert Rose en dat dit inderdaad verskriklik warm was. “Ek dink op ʼn stadium kon ons almal onsself vereenselwig met mense wat te lank in hulle eie gedagtes kook en dit het ons spannetjie net nog meer na ʼn familie laat voel.

“Die verfilming tydens die Covid-19-inperking was baie uitdagend, maar dit het ons almal na aan mekaar gebring. Dit was werklik ʼn spesiale klomp mense om mee saam te werk. Wat die sweterigheid betref, het ons ʼn fantastiese grimeerdepartement gehad, wat gesorg het dat ons goed opge-ghries en vuil is – ʼn mens kon omtrent aan niks vat nie! Die stort aan die einde van ʼn skiet-dag was altyd so ʼn verligting – werklik ʼn afwas van ʼn karakter én die dag.”

Die grendeltyd het sy tol baie swaar op die kunste geëis. Sy vertel dit is ontnugterend om tot stilstand te kom na ʼn tydperk van intense werk wat skielik ophou, en te sien hoe die kunsbedryf – soos ʼn kanarie in ʼn myn – heel eerste op sy hurke sit en in duie stort.

Tina het die rol van Katja in die reeks “Nêrens Noord-Kaap” vertolk. (Foto verskaf)

“Skielik vra ʼn mens baie persoonlike vrae oor jou doel en wat werklik belangrik is. ʼn Groot deel van ons persoonlikheid en identiteit is verknoop met ons beroep en dat dit ʼn refleksie van ons eie waarde word, en amper onlosmaaklik is van ʼn mens se selfvertroue. Alles het ʼn terugslag beleef, en ons sal nog lank die laaste trillings daarvan bly voel.

“Dit het die mat heeltemal onder my uitgeruk en ek het alles rondom my en my beroep begin bevraagteken – en in die algemeen kon ek tussen ons almal voel dat daar ʼn onsekerheid en weerloosheid in ons posgevat het.

“Inperking het my geleer dat ek straks so bietjie beter na myself moet kyk. Ek het net-net oorleef toe alles vir akteurs tot stilstand gekom het.”

Sy vertel dat verfilming tydens die grendeltyd – veral wanneer akteurs nie in tonele deur maskers beskerm kon word nie – bygedra het tot ʼn bedryf wat alreeds relatief gespanne is onder die omstandighede.

“ʼn Mens was ook só geraak deur die opwinding om weer te kon werk,” vertel sy.

Sy lag toe ek vra wat haar na die rol van Rosie aangetrek het. “Die feit dat dit werk is? Ons kry nie werklik die geleentheid om rolle te kies nie, en is altyd dankbaar vir ʼn geleentheid.

‘n Skermgreep uit die gewilde reeks “Nêrens Noord-Kaap”. (Foto verskaf)

“Dit was ook ironies dat dit een van drie rolle is waarmee ek verlede jaar omgegaan het, waarin ek in almal dood is. Maar ek het gehou van haar afgemete misterie – daar is beslis baie meer aan Rosie, as op die oog af.”

Tinarie sê ʼn mens is altyd onseker hoe ʼn projek sal uitdraai – as jy televisie maak is jy net deel van ʼn breukdeel van die produksie. “Daar is baie wat sonder jou gebeur, so dis onmoontlik om te raai hoe dit sal wees of ontvang sal word.

“Maar wat ek weet, is dat dit vir diegene betrokke baie spesiaal was, en dat dit ʼn storie is oor mense, foute en die begeerte vir ʼn beter toekoms – en dit is iets waarmee almal kan identifiseer. Dit is rou, en vuil en warm en vra geen verskonings nie – en dit klink altyd na lekker kykgenot, of hoe?”

Sy geniet dit ook om met jonger, onervare akteurs te werk. “Die jonger generasie is ongebonde deur ou idees en ideologieë, en wat soms as vanselfsprekend aangeneem word, word uit so ʼn onverwagte en verfrissende oogpunt aangepak. Dis wonderlik om ʼn nuwe perspektief te kan sien van iemand wat ons geskiedenis en kultuur nuut en anders ervaar – en ek hou nooit op met leer van my medespelers nie. Soms is minder ervaring ʼn geleentheid vir nuutskepping, omdat jy nie die beperkings voorhou, wat soms diegene in die verlede teruggehou het nie.”

Sy woon al agt jaar op Riebeek-Kasteel, sowat 90 km buite Kaapstad, en sê die rustigheid doen haar goed.

“Ek mis die stad elke nou en dan, maar dit is darem net om die draai. Die sterre is helder, hier is altyd parkeerplek, en my diere kan almal seëvier hier op die erfie. My diere begin nou al oud word. Dit is die geriatriese trippel-A klub hier by my: almal is al 12 plus, met onderskeidelike skete en kwale en spesiale kos, en hulle is my hele hart. Hier is nou 3 katte (met altesaam 11 bene), 3 hoenders, ʼn spul visse en bye almal saam hier op die erf – dis ʼn fees!”

Tinarie is ‘n mede-regisseur van die reeks “Dinge van ‘n kind”. (Foto verskaf)

Sy sê haar diere, ʼn goeie koppie koffie, en die wete dat iemand lief is vir haar, laat haar soggens met ʼn glimlag opstaan.

Haar wisseling tussen rolle in kort tydjies, soms almal gelyk – nou is dit Valsrivier, Opdrifsel, Ek, Anna van Wyk – verg kophou, maar sy sê elke karakter woon in hulle eie wêreld en milieu en dit is bykans onmoontlik om hulle in hierdie opsig met mekaar te verwar, omdat hul ruimtes, stories, en die mense met wie jy hulle deel en ontgin, só uiteenlopend is.

(Foto verskaf)

“Wat wel altyd ʼn uitdaging is, is die kort speelvakke – vir ʼn toneelstuk om werklik tot sy reg te kom, moet dit vir ten minste ʼn week of twee kan speel, vir die onsigbare om werklik te gebeur, en vir daardie verdieping om plaas te vind.

“Ongelukkig is dit ʼn baie rare verskynsel, dus bly die spanning en druk geweldig baie, en is dit moeilik vir die werk om deel van jou onderbewuste vesels te word. Jy moet dus heelwat harder werk om die karakter te gaan haal en weer op te diep. Hoe dieper jy in die karakters gaan dit, hoe dieper sit hulle in jou.

“Ek het nou die dag geskerts na afloop van Ek, Anna, dat hoe beter die dag se vertoning voel, hoe erger voel ek dikwels daarna. Die karakters eis hulle oomblik volkome.”

  • Desert Rose se première op M-Net (DStv-kanaal 101), is op Donderdag 2 Junie om 20:30. Die reeks sal op Catch-up beskikbaar wees.
  • Foto’s verskaf deur kykNET en M-Net.
  • Kyk gerus die lokprent hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.