Tiger King 2 beloof nóg meer malligheid, chaos

Skermgreep uit die video

ʼn Opvolg van Tiger King, die dokumentêre reeks wat miljoene wêreldwyd verstom gelaat het in die vroeë dae van die Covid-19-pandemie, sal later vanjaar vrygestel word, het Netflix gesê.

Die oorspronklike reeks volg “Joe Exotic”, ʼn flambojante privaat dieretuineienaar met ʼn mullet wat oor ʼn verskeidenheid groot katte, lawwe werknemers en onwaarskynlike pasmaats. Hy beland uiteindelik in die tronk op aanklag van poging tot moord.

Meer as 64 miljoen huishoudings het dié reeks in die eerste vier weke gekyk ná dit in Maart 2020 vrygestel is.

Tiger King 2 beloof nou “nog meer malligheid en chaos” met ʼn terg-lokprent waar Joe skynbaar uit die tronk bel waar hy sy 22 jaar tronkstraf uitdien. Die volledige lokprent bevat inligting oor reekse en flieks oor ware misdaadverhale wat binnekort op Netflix beskikbaar sal wees. Carole Baskin, die diereregteaktivis wat Joe Exotic se slagoffer sou wees, verskyn ook vlugtig in die lokprent. Sy het egter aan Fox Business gesê sy het deelname aan die reeks van die hand gewys ná die “valse uitbeelding” van wie sy is in die eerste reeks.

Die oorspronklike Tiger King het hoofsaaklik op die vyandigheid tussen Joe en Baskin gefokus. Baskin beskuldig Joe al jare lank dat hy die diere in sy park mishandel. Die reeks het ook wilde en ongestaafde gerugte bevat dat Baskin haar man aan tiers gevoer het. Baskin ontken enige betrokkenheid by haar man se verdwyning.

Die lokprent vir die opvolgreeks sluit ook ʼn advertensiebord in met die woorde “Who murdered Don Lewis?” en bied ʼn beloning aan van $100 000 vir inligting oor wat met Baskin se man gebeur het.

Amerikaanse owerhede het in Mei beslag gelê op 68 leeus, tiers en leeu-tier-kruisings uit die voormalige dierepark van Joe Exotic, wat nou deur Jeffrey en Lauren Lowe bestuur word. Die huidige eienaars het herhaaldelik wette oortree om behoorlik na die diere om te sien en ook nie ʼn gekwalifiseerde veearts aangestel nie, aldus beamptes van die departement van justisie.

Regisseurs Eric Goode en Rebecca Chaiklin keer terug vir Tiger King 2.

Hollywood Reporter se video oor die opvolgreeks:

Die volledige lokprent met alle ware misdaadverhale waarna Netflix-kykers kan uitsien: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.