Tim Theron oor ‘blye Dina-reünie’

Tim Theron in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Vir Tim Theron, wat die rol van Deon Visagie in Projek Dina vertolk, was die maak van die tweede seisoen van dié gewilde kykNET-dramareeks soos ’n familiereünie.

Wat dink jy is Deon se sterk- en swakpunte?

Sy sterkpunte is sy passie vir wat hy doen en sy vasberadenheid om die mens wat vermis is op te spoor, maak nie saak wat nie. Dit is vir hom belangrik omdat hy weet hoe belangrik dit vir die familie is. Sy swakpunte? Hy is swart-en-wit en sukkel om buite die reëls te beweeg, wat beteken hy maak die lewe vir homself soms moeilik. Emosies is ook nie sy sterkpunt nie. Enige plek waar dinge te emosioneel raak, raak hy ongemaklik.

Watter eienskappe van die karakter geniet jy die meeste?

Ek geniet die feit dat hy dit wat hy doen so ernstig opvat. Ek is nie ’n ernstige mens nie, vat nie die lewe so ernstig op nie en probeer regtig om die lewe ten volle te geniet en die beste in alles te sien. Maar ek is baie passievol oor wat ek doen vir ’n lewe, om stories te vertel en veral om werk te skep. Daardie passie wat ek het, kom ook deur in Deon. Dit is nie net vir hom ’n werk nie, nie net ’n salaristjek aan die einde van die maand nie. Hy is dalk baie ernstig oor die lewe, maar daardie was ’n goeie kontakpunt tussen my en die karakter – die passie vir wat hy doen.

Hierdie is die tweede seisoen. Is julle hoofspelers al soos familie?

Ja, dit het soos ’n reünie gevoel toe ons mekaar weer op die stel gesien het. Daar was ʼn groot gaping tussen die skiet en uitsaai van die eerste reeks en toe ons hoor ons gaan ’n tweede reeks doen. Ons het almal gemaklik in ons rolle geval. Om almal weer te sien was ontsaglik lekker en dit het die skedule en omstandighede wat nie altyd so wonderlik was nie, makliker gemaak. Enige projek is net ʼn duisend maal beter as jy regtig kliek en vriende raak en omgee vir die mense wat saam met jou speel.

Tim Theron in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Wat kan kykers van die res van die reeks verwag?

Ek kan nie te veel weggee nie, maar die groot vraag op almal se lippe is: Waar is Dina? Met die eerste reeks het die span so naby gekom en hulle het gedink hulle het haar gekry. ʼn Mens sien op hierdie stadium nog nie soveel daarvan in die tweede reeks nie, maar wat ek vir kykers kan sê, is die storie rondom Dina gaan ’n baie groter rol begin speel.

Waarmee is jy die res van die jaar besig?

Ons is besig met drie, selfs vier, rolprente wat ons bymekaar sit, maar soos ons altyd sê – niks is vas tot die kameras begin rol nie. As alles goed gaan en al die legkaartstukkies val in plek, dan gaan die jaar redelik mal raak van so Mei, Junie se kant af. Ons probeer werklik om werk te skep.

Wat is altyd op jou bedkassie?

Altyd ’n boek. Hoofsaaklik fiksie, maar ek het die afgelope tyd ook outobiografieë begin lees. Ek het onlangs Will Smith s’n gelees en dis ’n uitstekende boek. Daar was ’n tyd toe die kinders jonger was en hulle ons meer uit die slaap gehou het wat ek minder gelees het, maar deesdae probeer ek elke dag minstens ’n paar bladsye lees.

Tim Theron in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

As jy minister van kuns en kultuur kan wees, wat is die eerste ding wat jy sal doen?

Ek het onlangs met ʼn vriend gepraat en ons het gepraat oor die idee dat Suid-Afrika, soos baie ontwikkelende lande, ’n arm land is. As jy egter kyk hoeveel geld die afgelope nege jaar verdwyn het in hierdie bodemlose put van korrupsie en wanbesteding, is daar meer as genoeg geld om ’n impak in hierdie land te maak.

Kuns en kultuur is deel daarvan. Daar is ’n rede hoekom fasciste altyd die kunstenaars en die intellektueles eerste na die spreekwoordelike brandstapel stuur. Ons het al gesien hoe sport ons land bymekaar kan bring, maar kuns en kultuur kan dit ook doen. Hoe meer ons kans kry om ons stories te vertel, hoe meer gaan ons sien dat daardie stories saam begin vloei. Dit kan ’n saambindende faktor word.

Die eerste ding wat ek sal doen, is om seker te maak dat die geld wat vir kuns en kultuur gegee word, na die regte plekke toe gaan. Ek dink mense wat in hierdie departemente werk – van munisipale tot nasionale vlak – het nie ’n aanvoeling vir die kunste nie en het nie hulle vinger op die pols nie. Stel mense aan wat weet wat hulle doen en weet hoe om die kunste te gebruik om ’n impak te maak, kreatiwiteit uit te bou en werklik ’n verskil te maak.

Daar is baie ander dinge ook. Soos in Frankryk waar daar ’n heffing op elke fliekkaartjie is en daardie geld gaan aan ’n fonds wat help om onafhanklike rolprente te vervaardig. ʼn Mens kan baie kreatief raak oor hoe om die kunste te befonds.

Projek Dina is Dinsdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, asook op DStv CatchUp te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.