Trane toe TV-boere moet kies

Lynette en Maxie het albei hulle tasse gepak en boer Kobus se plaas in Randfontein verlaat. (Foto: kykNET)

In Donderdagaand se emosioneel gelaaide episode van Boer soek ʼn vrou het die boere uiteindelik hulle finale keuses gemaak – en een boer het in ʼn skokwending albei sy gekose dames huis toe gestuur.

Lynette, wat meer as een keer laat hoor het dat sy seker is boer Kobus (53) haar gaan kies, was ooglopend teleurgesteld oor sy keuse om haar en Maxie albei huis toe te stuur. Maxie het egter voorheen gesê sy vermoed dat hy hulle albei gaan vra om hulle tasse te pak.

“Ek kon nie tussen julle kies nie en daarom gaan ek julle albei vra om huis toe te gaan,” het Kobus met Marciel Hopkins, aanbieder van die program, aan sy sy gesê.

Die Randfonteinse boer het kykers warm onder die kraag gehad met dié besluit. Sommige het ook op Facebook hul misnoeë uitgespreek.

“Sommer vies vir hom. Hy kon maar een gekies het en aangegaan het met die proses,” skryf Naomi van der Merwe.

Boer Kobus help die dames om hulle tasse in die voertuig te laai. (Foto: kykNET)

“Nee jong, eet maar alleen afval Kobus. Jy het almal se tyd gemors,” sê Wayne Basil Short met verwysing na die skaapkopafval wat hy in ʼn vorige episode vir die vroue voorberei het met Lynette se verjaarsdag.

Ander kykers was weer bly oor Kobus se nuutgevonde status as enkelloper. “Dankie tog, nou kan ek jou nooi vir koffie,” skerts Amanda Bouwer.

Op boer Richann se plaas het Marizel gesê sy is gereed om terug te gaan na haar klein dorpie in die Karoo nadat sy erken het sy weet dat Richann (29) vir René gaan kies. Hy het uiteindelik vir René gevra om langer op die plaas te kuier.

René het op haar beurt gesê sy het gevoelens vir Richann. “Hy is so lief vir alles wat hy doen al verskil dit hemelsbreed van mekaar. Aan die een kant is die musiek waarvoor hy so lief is en waarmee hy so goed is en aan die ander kant is die boerdery, waaroor hy net so passievol is.”

Boer Niel het die donkerkop Cheréze gekies om op die plaas agter te bly. (Foto: kykNET)

Boer Niel (32) het op sy plaas in Grabouw in trane uitgebars toe Marciel hom uitgevra het oor die keuse wat voor hom lê.

“My hart is vol emosies,” het die donkerkopboer, wat die meeste briewe aan die begin van die reeks ontvang het, gesê.

Niel het verklap dat hy sy finale keuse uiteindelik op sy “persoonlike smaak” gegrond het. Hy het die donkerkop Cheréze gevra om op die plaas aan te bly en die blondekop Monique huis toe gestuur.

“Ek was gemaklik met hulle almal, maar jy ervaar ʼn sekere gemaklikheid wanneer jy by iemand is,” het Niel gesê.

Boer Déan het gesê sy keuse was nie maklik nie en dat hy innerlike konflik ervaar het oor die keuse wat hy moes maak. Hy het vir Marné gekies om op die plaas aan te bly.

“Ek dink nie ek sou myself kon vergewe of vrede kon kry as ek haar moes huis toe stuur nie. Sy is anders en uniek in die manier wat sy dinge doen; sy is ʼn tipiese huisvrou en ek is seker sy gaan ʼn ongelooflike ma wees,” het hy oor Marné gesê.

Boer soek ʼn vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

Lae intelligensie TV vermaak. Sal te skaam wees as ek ‘n boer is en te vrot is om ‘n meisie te kry.

MakersMark ·

Stem – geen man met ruggraat sal homself so verneder nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.