Trevor Noah met gesogte toekenning bekroon

Trevor Noah (Foto: Facebook)

Die Suid-Afrikaans gebore komediant Trevor Noah is Sondagaand met ʼn Creative Arts Emmy-toekenning bekroon.

Dié spogtoekennings is by die Microsoft-teater in Los Angeles in die VSA uitgedeel. Die Creative Arts Emmys vereer tegniese en ander soortgelyke prestasies in die Amerikaanse televisiebedryf. Die keur in niefiksie, verskeidenheidsprogramme, werklikheidstelevisie en animasie kom in aanmerking hiervoor. Die toekennings staan teenoor die Primetime Emmy-toekennings wat uitgedeel word vir die beste programme wat in spitstye op televisie wys.

Noah is tydens dié geleentheid met ʼn Emmy bekroon vir sy YouTube-dokumentêr, The Daily Show: Between the Scenes. Die komediant het gewen in die kategorie beste minireeks en het ander benoemdes soos onder meer Behind the Voice, Epic Rap Battles of History, Honest Trailers en The Star Wars Show uitgestof.

Noah was besig met ʼn komedievertoning in Washington DC en kon nie self die geleentheid bywoon nie. Die komediant is nié vir ʼn toekenning benoem in die beste kletsprogram-kategorie vir die Primetime Emmys nie.

Televisieprogramme wat as wenners geskitter het by vanjaar se toekennings sluit onder meer in Stranger Things (vyf toekennings), Westworld (vyf toekennings), Saturday Night Live (vyf toekennings) en Big Little Lies (drie toekennings). The Crown, die gewilde reeks wat die lewe van Elizabeth II op die troon in Engeland uitbeeld, het ook twee toekennings gekry.

Vir ʼn volledige lys wenners, besoek die Creative Arts Emmys se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Joe ·

Kan nie sy patetiese aangeplakte aksente hanteer nie, goeie stand up, treurige host. Mis vir Jon Stewart. 2) Almal wat al die Daily Show aangebied het, het die al gewen, so well done aan CC en die skrywers.

Boerseun ·

Die establishment wat hul self weer n goue medalje gee. Wag nou nog vir Samuel L en Adel om pad te gee uit Amerika. Amper soos om n SA rugby speler van die jaar toekening te gee as hulle maar 40% van hul games kon wen. Maar vir sekere is goed soos die Kardashians seker belangrik

dollie ·

Veels geluk, Trevor. Die ou maak ‘n sukses van sy lewe, ‘n rolmodel vir meeste van ons.

m ·

Mooi so jy verdien dit. Is mal oor jou. Jy laat mens vergeet van rassisme en stres en alles wat sleg is. Hou so aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.