Trouklokkies lui vanjaar vir dié TV-boere

Hoewel daar soms skeptisisme bestaan oor werklikheidsreekse waar daar op Kupido se liefdespyl staatgemaak word, is daar ongetwyfeld iets te sê vir die suksesverhale wat die kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou oplewer.

Vier van die hubare boere wat onlangs aan dié reeks deelgeneem het, staan sowaar vanjaar voor die kansel met vroue wat hulle deur dié program ontmoet het – met die eerste troue wat eerskomende Saterdag reeds plaasvind.

Niel en Cheréze – 15 Januarie 2022

Cheréze en Niel van ‘Boer soek ‘n vrou’-faam is verloof. (Foto: Inecke Photography)

Niel Bruwer en Cheréze Maree, wat mekaar in die Kaap op die Lanzerac-landgoed ontmoet het tydens die Boer soek ʼn vrou-blitsafsprake van die 13de seisoen waaraan hulle deelgeneem het, staan dié naweek voor die kansel.

Niel, ʼn vrugteboer van Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap, het in Julie verlede jaar die jawoord by dié wynlandgoed in Stellenbosch gevra.

Hy het vroeër aan Maroela Media vertel hy wou graag dié groot dag as ʼn verrassing vir Cheréze hou, maar dat die grimeerkunstenaar vir die fotosessie wat hy gereël het amper die doppie vir sy geheim geklink het.

Cheréze en Niel van ‘Boer soek ‘n vrou’-faam is verloof. (Foto: Inecke Photography)

“Ons het die dinge Saterdagoggend so toegesmeer dat sy mooitjies van die idee vergeet het dat ek haar dalk gaan vra om te trou. Toe ek tydens die fotosessie op my knie neersak, was sy so verbaas dat sy gevra het: ‘Wat doen jy?’”

Niel het tussen die trane deur die groot vraag gevra. “Ek het vooraf geoefen wat ek gaan sê, maar toe die oomblik kom, het daar net twee sinne uitgekom: ‘Daar is soveel dinge wat ek vir jou wil sê en wat jy vir my beteken, maar alles loop net na een ding toe: Sal jy met my trou?’”

Cheréze het tussen die trane deur uiteindelik “ja” gesê, het Niel vertel.

PF en Chantelle – 19 Maart 2022

Boer PF en Chantelle. (Foto: Werner Bentz Photography)

PF Theron van Laingsburg in die Wes-Kaap het dalk nie die topvyf van die 13de seisoen van dié reeks gehaal nie, maar die blondekop-onderwyseres Chantelle Pretorius, ʼn voormalige Mej. Dowe SA en onderwyseres, het in die loop van die program ʼn brief aan hom geskryf en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

PF en Chantelle het in September verlede jaar verloof geraak en trou op 19 Maart by Montpellier in Tulbagh.

Twee maande voor PF vir Chantelle gevra het om met hom te trou, het hy besluit om haar ouers eers te vra terwyl sy gaan bad het. Chantelle se ouers het dit geensins verwag nie, maar hulle het hom met ope arms as deel van die familie verwelkom.

PF sê hy het ses maande lank uitgevis wat Chantelle verkies as dit by ʼn verloofring kom, maar om die ring te laat maak, moes hy arme Chantelle drie uur lank in ʼn winkelsentrum in Worcester los terwyl hy by Viljoen Juweliers was wat die ring gemaak het.

“Ek spot dit was die eerste keer dat ʼn vrou vir my kwaad was omdat ek haar in ʼn winkelsentrum gelos het.”

Die paartjie het heerlik geskerts oor die 12 diamante in die ring wat glo die 12 kinders verteenwoordig wat hulle aan Marciel Hopkins, die aanbieder van Boer soek ʼn vrou, beloof het.

“O nee, ek dink nie daar sal regtig 12 kinders wees nie,” het Chantelle gelag.

Albert en Chanté – Augustus 2022

Boer Albert Smit en Chanté Kruger het op die rotse in Mosselbaai verloof geraak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

Albert Smit, wat op Clanwilliam met rooibostee boer, het in November verlede jaar op die rotse by die Mosselbaaise see vir Chanté Kruger gevra om sy bruid te wees.

Chanté het Albert se topvyf gehaal van die vroue wat tydens die program die blitsafsprake bygewoon het, maar hy het haar nie gekies om plaas toe te gaan nie.

Dié twee het egter agterna weer kontak gemaak en begin kuier nadat Chanté van Pretoria na die Kaap verhuis het.

Een somersaand by Chanté se ouerhuis het Albert besluit om al sy moed bymekaar te skraap om haar ouers se toestemming te vra om met hul dogter te trou. Chanté het gaan bad, terwyl haar ouers en Albert in die sitkamer gesit en televisie kyk het.

Met min tyd oor, voor Chanté klaar gebad het, staan Albert op en vat die televisie se afstandbeheerder voor die oom van die koffietafel af en sê vir die oom en tannie: “Ek moet met julle praat.”

Boer Albert Smit en Chanté Kruger het Saterdag op die rotse in Mosselbaai verloof geraak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

Chanté se ma het gesê dat sy geweet het dit kom, maar haar pa was stomgeslaan. Hy het net op sy rusbank bly sit, stil, tot sy vrou eindelik vra of hy iets gaan sê. Die oom het heel gemaklik, met ʼn glimlag geuiter: “Ja, nee. Dis reg, jy kan seker maar met haar trou.”

“Toe ek op my een knie neersak om die jawoord te vra, was haar eerste reaksie: ‘Weet my pa hiervan?’. Sy het ʼn baie hegte verhouding met haar ouers,” het Albert aan Maroela Media gesê.

Albert het Chanté se verloofring laat maak by Howie Viljoen van Viljoen Juweliers op Worcester. Dit was op aanbeveling van sy vriend, PF, wat kort tevore ʼn ring aan sy Chantelle se vinger gesteek het.

“Die ring het 11 diamante, een groot diamant in die middel met tien klein diamantjies rondom, vyf aan ʼn kant,” vertel Albert.

Die paartjie beplan om in Augustus ʼn plaastroue op Albert se ouerplaas in Clanwilliam te hou.

Déan en Megan – Desember 2022

Déan Botma en Megan Wille. (Foto: Déan Botma/Instagram)

Kykers van die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou was verbaas en selfs geskok toe Déan Botma die blondekop-balletdanser Megan Wille eerste van die plaas af huis toe gestuur het, maar vandag is dié twee oud-Nelspruiters verloof.

Déan het op Oujaarsdag verlede jaar die nuus gedeel dat hy ʼn ring aan Megan se vinger gesteek het terwyl hulle met vakansie was in Namibië.

Déan het in November verlede jaar, tydens Megan se verjaarsdagviering, besluit om haar ouers te vra vir hul seëning en toestemming om met hul dogter te trou. Déan het aan Megan gesê dat hy net gou iets vir haar broer wil vertel en so het Megan saam met Déan se ouers in die kar geklim en Déan saam met Megan se ouers.

Déan Botma en Megan Wille. (Foto: Déan Botma/Instagram)

Déan noem dat hy persoonlik met Megan se ouers wou gesels; die rit was kort, so Déan moes sy moed bymekaarskraap en vinnig tot die punt kom. Déan sê dat Megan se ma gehuil het en haar pa, terwyl hy bestuur het, sy hand agteroor uitgesteek en sy hand geskud het.

Megan het glad nie geweet dat hy beplan om haar die groot vraag te vra nie. “Ek dink sy het nou en dan gewonder as ek iets laat glip – sonder om natuurlik te veel te verklap. Ek moes haar bietjie terg en op haar tone hou!

“Tussen die lag en huil en opgewondenheid, was sy eintlik geskok. Maar blydskap oorstroom ons albei,” het hy aan Maroela Media gesê.

Maroela het vroeër berig dié makadamianeutboer het van Nelspruit permanent na George in die Wes-Kaap verhuis. Megan het ook reeds einde September na George verhuis en hulle is al sedert begin Oktober saam op die plaas.

Die paartjie beplan in Desember vanjaar ʼn somertroue in Stellenbosch of Franschhoek.

Die nuwe seisoen van Boer soek ʼn vrou skop vanaand, 13 Januarie, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) af. Hier is vanjaar se deelnemers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AmY ·

Mag julle net geluk en voorspoed hê.
Baie geluk aan julle almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.