Trouplanne ‘nog goed op dreef’ vir boer Willem en sy Sanel

Boer Willem en sy Sanel. (Foto: Kilig Photo)

As voormalige deelnemers aan die kykNET-maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou is Sanel Prinsloo en Willem Pool, die boer wat in die vorige seisoen haar hart gesteel het, slaggereed om voor die kassie in te skuif om saam te kyk na die nuwe seisoen wat eersdaags afskop.

Sanel (24) en Willem (31) was een van die 12de seisoen se gewildste paartjies en het in Julie verlede jaar op Willem se rooibosteeplaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap verloof geraak.

“Ons is nie van plan om ʼn enkele episode mis te loop nie. Omdat ons self daardeur is, sal dit lekker wees om te sien hoe die nuwe deelnemers vaar,” vertel Sanel aan Maroela Media.

Sanel, ʼn gr. R-onderwyseres op Leipoldtville, verklap dat hulle trouplanne nog goed op dreef is en dat hulle beplanning genadiglik tot dusver nie deur die Covid-19-pandemie in die wiele gery is nie.

Willem en Sanel. (Foto: Instagram)

Hoewel hulle lankal reeds ʼn datum gekies het, wil hulle dit nog eers ʼn rukkie geheim hou. “Ek het egter wel reeds my trourok gekies,” sê Sanel en vertel dit was ʼn familieuitstappie na die bruidswinkel waar sy haar droomrok uitgekies het.

“Dit was ʼn wonderlike ervaring om my trourok uit te kies. Die personeel was baie behulpsaam en ek is omtrent tot in die afgrond bederf. Ek is nie een wat vertroud is met mode nie, so ek was baie dankbaar vir die hulp wat hulle verleen het,” sê sy.

“Ons is maar skrikkerig om te veel reëlings te tref, maar het gesorg dat die groot goed reeds afgehandel is. Ek en Willem hou albei daarvan as ons goed agtermekaar is en ten minste het ons ʼn baie goeie ondersteuningsnetwerk, sou die pap dalk op die grond val.”

Sy vertel Willem woeker steeds een stryk deur op die rooibosteeplaas, waar sy ná die troue sak en pak by hom sal aansluit. “Kyk, hy sit mos nie stil nie. Die boerdery hou hom besig en uit die kwaad uit,” lag sy.

Willem en Sanel. (Foto: Facebook)

Volgens Sanel staan hulle families bont om seker te maak haar en Willem se groot dag is perfek. “Ons voel jammer vir ons vriende wat troues moes uitstel of kanselleer weens Covid-19. Ons wil dinge nie te ver vooruitloop nie en tref reëlings soos wat ons kan. Ons is net dankbaar almal is nog gesond en aan die gang.”

Sy lag wanneer sy vertel hoe sy en Willem soms agter ʼn kussing moet wegkruip wanneer hulle gesigte op die kassie is.

“Dit is baie belangrik dat ʼn mens vir jouself moet kan lag. Die Boer soek ʼn vrou-proses raak moeilik wanneer iemand huis toe gestuur moet word of as iemand ongelukkig is, maar dit moet jou nie keer om jouself te wees en dit net te geniet nie.”

Daarom moet die deelnemers aan die nuwe seisoen net ontspan en dit geniet, sê sy. “Dit is ʼn hoofstuk in my en Willem se lewe waaroor ons nie vir ʼn oomblik spyt is nie en ons hoop van harte dat dinge vir die nuwe groep boere dieselfde sal uitdraai.”

Die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou begin Donderdag 21 Januarie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitsaai. Marciel Hopkins is die aanbieder van die seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.