Tuisfliek van die maand: Knysna

Foto: DSTV

Knysna
Met Neels van Jaarsveld en Marguerite Wheatly
Regisseur: André Velts

Wat is ware, onselfsugtige liefde? Vra die romantiese komedie. Moet ʼn mens van adellike afkoms wees en jouself voordoen as iemand wie jy nie is nie, of raak die regte mense op die regte oomblik op mekaar verlief bloot omdat hulle eintlik maar net doodgewoon is?

Hierdie romantiese komedie is destyds uitgereik toe die publiek dalk in ʼn oormaat romantiese komedies verdrink het. Daar was net te veel yl draaiboeke met dieselfde soort stories en dieselfde struikelblokke in eenselwige karakters se paaie. Daarom dat hierdie lekkerlag-romanse so goed afgegaan het. Dit het in ʼn ander milieu afgespeel as ander soortgelyke komedies, terwyl Neels van Jaarsveld as die held Dolf se sjarme een van die rolprent se sterkste punte is.

Hy slaag daarin om ʼn normale ou met ʼn sleurwerk met soveel oortuiging en eerlikheid te speel dat ʼn mens hom enigiets vergewe. Daar is boonop ʼn lekker vonk tussen hom en Margaret Wheatly as ʼn meisie wat aan die Prins van Lichtenstein verloof is, maar dan kleinkoppie trek en op Knysna kom wegkruip waar sy, teen alle verwagtinge in, op Dolf verlief raak. Die rolprent ondersoek dan op humoristiese en vrolike wyse hoe teenoorgesteldes mekaar aantrek, en onpaar pare (odd couples) mekaar eintlik kan aanvul mits hul liefde eg is.

Hier en daar is daar slapstick-tonele wat neig om ʼn bietjie uit die raam te spring, maar oor die algemeen vonkel die tonele soos egte sjampanje. Dit word aanbeveel as jy op ʼn Sondagmiddag sommer net op jou rusbank wil lê en probeer vergeet van wat alles tans in ons politiek aan die gang is. Net die regte manier om aan die nare werklikheid te ontsnap.

Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Susan ·

Was glad nie vir my n goeie fliek gewees nie, een keer se kyk was genoeg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.