Tuisfliek van die maand: Sink

sinkSINK ****

Met Jacques Bessenger en Anel Alexander

Regisseur: Brett Michael Innes

Vir diegene wat nog nie die voorreg gehad het om hierdie skitterende rolprent te sien nie, maak dit deel van jou week se fliekspyskaart, want dit is nie aldag wat ʼn mens die voorreg het om so ʼn fyn-genuanseerde, weldeurdagte Afrikaanse rolprent te ervaar nie. Die regisseur Brett Michael Innes bewys homself as een van ons belowendste jong talente.

Die rolprent bekyk ʼn gewoontehuwelik wat besig is om te verkrummel. Wat gebeur wanneer twee selftevrede jappies hul eie waardes moet herondersoek wanneer hul huishulp Rachel, gespeel deur die bekroonde Shoki Mokgapa, se dogtertjie sterf? Maar daar is ʼn dieper geheim wat die fondamente van hul samesyn skud, en ook na die wortels van xenofobie gaan.

Die rolprent ondersoek nie slegs die identiteitskrisis van ʼn Mosambiekse vrou wat vrees dat sy gedeporteer gaan word indien sy haar werk verloor nie, maar ook ʼn land in konflik met homself. Die skeur wat deur die huwelik loop soos ʼn bars deur ʼn wasbak, loop inderdaad ook deur ʼn getraumatiseerde volk. En dit is presies wat hierdie rolprent met kragdadigheid, sensitiwiteit en ʼn gesofistikeerde styl oordra.

Wat verder tref, is die uitmuntende kunsregie. Die egpaar se huis is koud en gestroop van enige warmte of liefde. Hier woon sakemense wat bolangs leef en nooit by die siel van ander mense uitkom nie. Hulle geluk is kunsmatig en word deur veronderstellings aan die gang gehou. Wanneer die werklikheid hulle egter inhaal, versplinter hulle droom.

Onderspeelde vertolkings deur al die hoofspelers, ondersteun deur gestroopte, ekonomiese dialoog en visuele subteks soos die kliniese huis en die gemor van die Kreepy Krauly, sal jou lank bybly. Dit is ʼn kunsrolprent wat nie op vermaak ingestel is nie, maar wat sy tema deeglik en met groot oortuiging en verantwoordelikheid ondersoek.

Gesoute rolprentresensent, skrywer, draaiboekskrywer Leon van Nierop resenseer maandeliks vir ons ʼn top-Afrikaanse rolprent wat op Showmax te sien is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.