TV-aanbieder kry die trekpas ná bewerings teen hom

Matt Lauer (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse televisiekanaal NBC News het bevestig dat hy Matt Lauer (59), die aanbieder van The Today Show, die trekpas gegee het.

Die kanaal het gesê hy het besluit om Lauer se kontrak te beëindig nadat ʼn vrouekollega hom van “onvanpaste seksuele gedrag” beskuldig het.

Lauer, wat sedert 1997 die aanbieder van dié program was, het glo tydens die Olimpiese Spele in 2014 met die onvanpaste gedrag begin waarna dit op kantoor voortgeduur het.

Kort ná die nuus oor sy afdanking bekend gemaak is, het The New York Times en Variety ook onderskeidelik berig oor vyf verskillende vroue wat glo dieselfde beskuldigings teen hom gemaak het.

Die vroue het gesê dat Lauer homself voor hulle ontbloot het en dan kwaad was as hulle nié met hom wou seks hê nie. Volgens die artikel het die vroue klagtes by die bestuur van NBC News ingedien, maar dié klagtes het volgens hul bewerings op dowe ore geval.

In die artikel in The New York Times beweer die vrou dat Lauer haar na sy kantoor ontbied en gedwing het om seks te hê. Sy beweer sy het hulpeloos gevoel omdat sy nie haar “werk wou verloor nie”.

Savannah Guthrie en Hoda Kotb, Lauer se mede-aanbieders op die program, het die nuus oor Lauer se afdanking ook regstreeks tydens die Woensdag-program bekend gemaak. Die aanbieders het gesê hulle is “gebroke” oor sy afdanking.

Andrew Lack, voorsitter van NBC News, sê die klag teen Lauer het die maatskappy se standaarde oortree en daarom is daar teen die aanbieder opgetree.

Lack het gesê dit is die eerste klag teen Lauer in die 20 jaar dat hy die program aanbied, maar daar is “rede om te glo” dat dit nie ʼn geïsoleerde voorval is nie, met verwysing na die artikels wat deur The New York Times en Variety geplaas is.

“Ons grootste prioriteit is om ʼn werksomgewing te skep waar almal veilig en beskermd voel en om te verseker dat enige optrede wat ons kernwaardes oorskry, die gevolge sal dra,” het hy gesê.

NBC News het ook vroeër sy senior visepresident, Matt Zimmerman, afgedank nadat dieselfde klagte teen hom gemaak is.

Pres. Donald Trump het Woensdag op sosiale media geskryf hy hoop Lauer se afdanking noop die maatskappy nou om ondersoek te doen na ander topbestuur na wie die vinger ook gewys word. “Sjoe, Matt Lauer is pas deur NBC afgedank vir ‘onvanpaste seksuele gedrag in die werkplek’. Wanneer gaan die topbestuurders by NBC en Comcast afgedank word omdat hulle soveel vals nuus plaas?” het hy op Twitter geskryf.

Piers Morgan, ʼn gerekende Britse joernalis en televisiepersoonlikheid, het Trump gekritiseer dat hy só ʼn inskrywing maak terwyl Lauer nog nie skuldig bevind is aan enige aantygings nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Net jammer daar is stories dat hy tot ‘n val gebring is omdat hy vir Crooked Hillary te hard gepols het tydens die verkiesing en sy belowe het om met hom te laat afreken.

Soekie ·

Dit verbaas my dat hulle so lank wag voor hulle die skuldiges aankla. 2014? Ek sou na dag 1 hom aangegee het. Of geniet die vrouens ook maar die aandag en op ‘n dag loop dinge skeef dan kom dit uit. Soek sensasie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.