TV-boere het skoot hoog deur

René en boer Richann het laat hoor dat hulle reeds in ‘n verhouding is. (Foto: kykNET)

Die plaasvellies was vandeesweek aan die ander voet toe die TV-boere van die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou in gisteraand se episode hulle gekose vroue se familie en vriende ontmoet het.

Boer Kobus van Randfontein het egter in sy afwesigheid geskitter nadat hy in verlede week se episode besluit het om Lynette sowel as Maxie huis toe te stuur en gekies het om nie hulle familie te ontmoet nie.

Die glimlagte wat egter oor die res van die boere én hulle vroue se gesigte span, laat dit blyk of Kupido se liefdespyl tóg vanjaar ʼn paar kolskote getref het.

Boer Richann van Vredefort in die Vrystaat en René het prontuit laat hoor dat hulle reeds in ʼn verhouding is.

“Ek dink dis veilig om te sê ons is reeds in ʼn verhouding. Ons het besluit ons het hierdie ding aangepak en wil voluit gaan daarmee. Jy kan nie ʼn verhouding toets as jy nie in ʼn verhouding is nie,” het Richann verduidelik.

Hy het ooglopend dolverlief voorgekom terwyl hulle saam met René se familie en vriende in Bloemfontein gekuier het.

“Ek dink ons gaan ons beste probeer om ʼn toekoms saam te bou,” het René gesê.

Boer Niel en Cheréze het by haar ouers op Hopefield gekuier. (Foto: kykNET)

By Cheréze se ouers op Hopefield het haar ma, Cathrin, gesê sy het dadelik gemaklik gevoel met boer Niel van Grabouw in die Wes-Kaap.

“Hulle sê altyd ʼn vrou soek ʼn man soos haar pa. Niel laat my baie dink aan Cheréze se pa toe hy jonk was,” het sy gesê.

Pa André sê ook hy en Niel het “baie aanknopingspunte”. “Ek is mal oor hom,” het hy gesê.

“My gaste kom uit verskillende aspekte van my lewe en dit is mense wat my verteenwoordig. Ek dink Niel sal ʼn goeie prentjie van my kry deur na hulle te kyk,” het Cheréze gesê.

Marlia se ouers het boer Albert van Clanwilliam met ope arms ontvang by hul huis in Hermanus. Marlia het vir Albert geneem om te gaan stap en wafels langs die strand te eet.

Pa Marius het druk op Albert geplaas toe hy gevra het waarom hy vir Marlia gekies het. “Ons het dadelik goed oor die weg gekom en lekker gesels,” het Albert geantwoord.

Boer Déan van Nelspruit het op Delmas by Marné se familie en vriende gekuier. Sy het hom onder meer geneem om teiken te skiet en het hom beïndruk deur haar kompeterende kant te wys.

“Ek dink ons is een stap nader aan die volgende stap. Om dit stap vir stap te neem is deel van die reis. Ek glo ons het ʼn goeie stap in die regte rigting geneem,” het Marné gesê.

Boer soek ʼn vrou is op Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Lae ik kykvermaak. Hoe ellendig moet ‘n man wees om op so manier ‘n meisie of vrou te probeer kry ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.