TV-danser vra jawoord tydens program

Ryan Hammond en Angelique Allison (Foto: Facebook)

Die veelbekroonde Suid-Afrikaanse baldanser Ryan Hammond het Sondag tydens die tweede uitsending van die M-Net-werklikheidsreeks Dancing with the stars die jawoord aan sy drie jaar lange vriendin gevra.

Kykers van dié gewilde reeks kon Sondagaand sien hoe Hammond in die middel van die dansvloer op sy een knie gestaan het om die groot vraag aan Angelique Allison te vra – en sy het “ja” gesê.

Hammond is onderskeidelik die professionele spanmaat van Liesl Laurie, voormalige Mej. SA, en Allison die dansmaat van Delron Buckley, ʼn voormalige Suid-Afrikaanse sokkerspeler.

“Jy het die maatstaf nou baie hoog gestel vir ander ouens,” het Chris Jafta, aanbieder saam met Tracey Lange, gesê. “Ek dink dit is onregverdig!”

Hammond se broer, Darren, het dié nuus ook op Facebook met aanhangers gedeel. “Hy het die vraag gevra. Sy het ja gesê. My broer gaan trou!” het hy laat hoor.

Kykers gaan eerskomende Sondag die eerste keer die geleentheid kry om vir hul gunsteling-danspaartjies te stem. M-Net het ook Maandag aangekondig dat hy Sondag die eerste keer ná afloop van die uitsending die uitslae regstreeks bekend gaan maak. Dié uitslae sal om 20:00, ná Carte Blanche, in die Dancing with the Stars SA Live Results-program bekend gemaak word.

Die beoordelaarspaneel bestaan uit Bryan Watson, Debbie Turner, Tebogo Kgobokoe en Jason Gilkison.

Vir meer inligting oor die stemproses of die reeks, besoek die M-Net-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.