TV-dokter skitter na loopbaanskuif

Gerald Steyn (Foto: Mizanne Hattingh/ Maroela Media)

Gerald Steyn is bekend vir sy rol as Pine Pienaar in Getroud met Rugby, en sedert verlede jaar Maart is hy in Binnelanders as dr. Uys Wagener te sien, maar min mense weet egter dat hy eers ʼn prokureur was voordat hy akteur geword het.

Die rooikop het kort voor sy 30ste verjaarsdag besluit om ’n loopbaanskuif te maak wat hom op die kassie in van die land se gewildste Afrikaanse sepies laat beland het.

“Daardie werk het my siel dood gemaak. Ek het my klerkskap voltooi en vir so ’n jaar gepraktiseer. Daarna het ek eers as kopieskrywer begin werk voordat ek die sprong na toneelspel gemaak het,” het Steyn (32) aan Maroela Media vertel.

“Ek was maar net bang. Ek was bang om as vryskutakteur te begin werk omdat ek grootgeword het in ’n huis waar mens van nege tot vyf moet werk.”

Hy het geskerts dat hy tot sy ouers se spyt een van sy universiteitsjare nie geslaag het nie.

“Ek moes toe al besef het dat ek op die verkeerde pad is.”

Die skuif het egter wondere vir Steyn verrig, en sy loopbaan as akteur gaan deesdae net van krag tot krag.

“Ek het eintlik gesê dat ek vir ’n jaar as akteur gaan werk om te sien hoe dit uitdraai, en nou is ek hier.”

Sepiester

Sepie-werk is volgens hom die beste leerskool vir akteurs.

“Daar is soveel tegniek wat met die opname van ’n sepie gepaard gaan. Dit het my ongelooflik baie geleer.”

Steyn het van sy universiteitsvriende geraadpleeg oor van die meer ingewikkelde mediese terme wat hy onder die knie moes kry.

“Jy kan die operasies gaan oplees en opsoek, maar dis nie deel van jou alledaagse lewe nie. As ek iets nie verstaan nie, sukkel ek om dit te leer.”

Hy het laggend bygevoeg dat hy soms lomper is as wat hy besef. “Ek is blykbaar hardhandig; ek het op ’n dag amper ’n deur op stel heeltemal uit sy skarniere geruk.”

Die voorval kan moontlik toegeskryf word aan die passie wat Steyn vir die bedryf het.

“Ek geniet dit so baie. Ek sukkel soms om te fokus, maar akteurs soos Hykie Berg en Cindy Swanepoel help gewoonlik om my rustiger te maak. Ek het al soveel geleer by die akteurs om my, en dis nie net by die ouer akteurs nie.”

Hy skrik ook nie vir sy eie gesig op die klein skerm nie.

“Dis ’n manier om ʼn bietjie gehaltebeheer te doen. Ek wil sien of ek dit wat ek daardie dag wou oordra, wel oorgedra het. Soms voel die toneelspel vir my bietjie afgestomp, en ek wil dit sien sodat ek daarop kan verbeter.”

Vreemde stokperdjies

Tydens die grendeltydperk het Steyn, soos menige ander, na die internet gedraai vir vermaak.

Hy het armdruk-video’s op YouTube ontdek, en kort daarna video’s van mense wat mekaar met die plathand deur die gesig slaan.

“Dit klink verskriklik, maar dit was ongelooflik snaaks; ʼn mens kan nie ophou kyk nie,” het hy geskerts.

Die grapperige akteur het egter ’n gesonder leefstyl deur armdruk ontdek.

“Ek het besef dat sonder jou hand en voorarm niks anders werk nie; dit het my so geïnteresseer. Ek het so half daaroor begin oefen en ek het ook besef dat soos wat my gewrig en voorarmspiere sterker word, ander spiere ook daarby baat.”

Kyk na die vinnige vrae wat ons aan Gerald gevra het hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.