In die nuwe kykNET-komediereeks G.I.L., wat staan vir Grobbies Internasionale Lughawe, vertolk die nuweling Ashley de Lange die rol van Rietjie.
De Lange het al rolle in flieks, verhoogproduksies en advertensies vertolk, maar die rol van Rietjie in G.I.L. is haar eerste groot rol.
De Lange is ʼn gebore Kapenaar wat van haar babadae af sing en dans en mense vermaak. “Ek dink my ouers het lang jare gelede reeds besef dat daar net een rigting vir my sou wees en dit is die vermaaklikheidsbedryf. Ek het op hoërskool besluit om ʼn loopbaan as aktrise te oorweeg.”
As sestienjarige het sy haar eerste professionele rol gekry in die musiekblyspel GLY, deur Hennie van Greunen en Pedro Kruger.
“Ek was baie bevoorreg om op ʼn jong ouderdom by dié meesters in die bedryf te kon leer. Christiaan Olwagen het my onder sy vlerk geneem het en my alles van teater geleer.”
Olwagen het onder meer die regie vir die teaterverwerking van Tsjekof se Die Seemeeu, A Doll’s House, Who’s Afraid of Virginia Woolf and The House of Bernarda Alba behartig.
“Hulle bly my mentors tot vandag toe en ek sou nie wees wie, wat en waar ek vandag is sonder hulle hulp en leiding nie,” sê De Lange.
“My liefde vir teater sal my altyd bybly. Dit is waar ek myself ontdek het en waar ek die beginsels, tegnieke en dissipline van toneelspel ontmoet en leer ken het. As ek gevra word om te kies tussen rolprente of teater sal ek antwoord met: ‘Ek gee nie regtig om nie, solank ek net kan speel’.”
Sy vertel Rietjie in G.I.L. het vinnig onder haar vel ingeklim. “Sy gee nie maklik weg wat sy werklik voel of dink nie – heeltemal die teenoorgestelde van myself – en meeste van haar menings word deur haar lyftaal en gesigsuitdrukkings weggegee. Haar kop is sterk, al lyk dit nie altyd so nie.
“Rietjie en Ashley droom albei groot en laat niks in hulle pad staan nie, so daaroor kon ons ten minste saamstem. Ek moes myself deur hierdie proses leer om haar te vertrou en om totaal en al oor te gee aan die oomblik, iets wat ek nie maklik van nature doen nie.”
In G.I.L. ontmoet kykers vir Barry Wiese (Bennie Fourie), ʼn ywerige en entoesiastiese raakvatter wat opgewonde is wanneer hy ʼn pos kry om ʼn internasionale lughawe te bestuur.
Sy entoesiasme taan egter wanneer hy besef dis minder internasionaal en meer munisipaal. Hy is opgeskeep met ʼn personeelspan wie se horisonne nie veel verder as hul skaduwees strek nie, maar hy is doelgerig om dit te laat werk.
Gershwin Mias, Ruan Wessels en Vele Manenje is saam met die veteraanakteurs Frank Opperman en Michelle Burgers in G.I.L. te sien. Volgens De Lange is dit ʼn “ongelooflike voorreg” om saam met dié gesoute akteurs te werk.
“Ek het my daagliks verkyk aan Frank en Michelle se toneelspel as Kreef en Letricia en ek moes gereeld my mond toedruk soos ek wou skreeu van die lag. Albei van hulle is nie net briljant as akteurs nie, maar sout van die aarde, wonderlike mense. Ek het elke dag so veilig gevoel in hulle teenwoordigheid en hulle was werklik soos die cool mamma en pappa van die span.”
Of sy van nature ʼn komedie-aktrise is, weet sy nie. “Blykbaar het ek goeie comic timing, of so het ek al gehoor. Dit kom natuurlik omdat ek nie omgee om vir myself te lag nie. Smaak en opinies verskil. Dit is juis wat komedie terselfdertyd so moeilik en interessant maak en hoekom ek so baie daarvan hou. Dit is beslis nie maklik nie.
“Weereens sal ek nie kan kies tussen drama of komedie nie. Dit is vir my soos om te kies tussen pasta en pizza. Onmoontlik!”
G.I.L. is Maandae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.