TV-programme om in 2021 dop te hou

Suid-Afrikaners gaan vermoedelik vanjaar weer meer tyd hê om voor die televisie deur te bring. M-Net, DStv-kanaal 101, kan egter hiermee help.

Hier is vyf plaaslik-vervaardigde televisiereekse om vanjaar na uit te sien:

‘The Bachelorette SA’

‘The Bachelorette SA’ (Foto: MNet)

Na twee uiters suksesvolle seisoene van The Bachelor SA, sal die eerste seisoen van The Bachelorette SA op 11 Februarie vanjaar afskop. Hierdie keer sal die rolle omgeswaai word en sal Qiniso van Damme ʼn groep hubare mans ontmoet wat sy dan een vir een moet groet tot slegs een oorbly.

Qiniso het verlede jaar aan Marc Buckner se seisoen van The Bachelor SA deelgeneem en was onder die topses voordat sy sonder ʼn roos huis toe gestuur is.

Qiniso is ʼn 26-jarige model en aktrise van Kaapstad. Sy is ook die suster van DA-parlementslid Phumzile van Damme en is tans besig om haar meestersgraad in sosiale antropologie te voltooi. Qiniso se ma is Suid-Afrikaans en haar pa is van België.

‘Love Island SA’

Love Island (Foto: M-Net)

Aanhangers van die internasionale realiteitsprogram Love Island kan op 28 Februarie vir die eerste plaaslike weergawe van dié gewilde maatsoekprogram voor die televisie inskuif.

Love Island sluit ʼn groep enkellopers in wat in ʼn pragtige omgewing bymekaarkom, gewoonlik op ʼn eiland, strand of by ʼn deftige hotel. Daar begin hulle ʼn somer van liefde, vriendskap en uiteindelik verhoudings.

Elke week moet die eilandbewoners pare vorm en elke week word hulle die opsie gebied om met iemand anders ʼn paar te vorm. Die deelnemers wat nie in ʼn paar is nie, kan huis toe gestuur word.

Verskeie uitdagings, dramatiese omswaaie en nuwe gesigte op die eiland sorg vir vermaaklike kykersgenot en drama.

Hoewel die eilandbewoners op soek is na liefde, moet hulle ook sorg dat hulle bowenal die harte van die kykers wen, want die kykers besluit uiteindelik watter paar met die finale prys van R500 000 wegstap.

‘Survivor SA’

Survivor SA Immunity Island (Foto: MNet)

Survivor SA is vanjaar vir die eerste keer plaaslik verfilm as gevolg van Covid-19-maatreëls. Vanjaar sal dié realiteitsprogram afspeel op die strande van die Wildekus in die Oos-Kaap. Survivor SA Immunity Island begin op 3 Junie.

Deelnemers sal soos voorheen in stamme verdeel word en aan uitdagings deelneem wat hul fisieke en verstandelike vermoëns toets. Tydens hul spanvergadering moet een lid uitgestem word tot daar slegs een oor is wat die titel van 2021 se Survivor SA sal dra.

‘Lioness’

‘Lioness’ (Foto: MNet)

Hierdie plaaslike drama gaan oor ʼn vrou wat haar kind, haar geliefde en haar vryheid verloor toe haar eksman voor sy dood dit laat lyk het of sy die bedrog gepleeg het waaragter hy eintlik sit.

Suid-Afrikaanse aktrise Shannon Esra vertolk die hoofrol in dié drama. Esra was ook te sien as Candice in M-Net se 2020-drama Still Breathing. Lioness begin op 28 Junie.

‘Reyka’

‘Reyka’ (Foto: MNet)

Reyka vertel die storie van die briljante maar menslike Reyka Gama, ’n kriminele profielsamesteller, vertolk deur Kim Engelbrecht.

Sy ondersoek ʼn string grusame moorde wat deur ʼn reeksmoordenaar gepleeg is in die suikerplantasies van KwaZulu-Natal. Reyka was self as kind ontvoer deur ʼn boer met die naam Speelman, wat deur Lain Glen vertolk word.

Reyka begin in Julie op M-Net te wys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.