TV-reeks wil jou dorp se planne, drome bou

‘n Tuinprojek in jou gemeenskap is een van die inisiatiewe waarna ‘Help ‘n dorp’ op soek is. (Foto: Verskaf.)

Het jou dorp of gemeenskap inisiatiewe wat ʼn hupstoot benodig? Is daar projekte met baie potensiaal wat sukkel om van die grond af te kom?

Met kykNET se splinternuwe program, Lottoland Help ʼn dorp, kan die drome wat Suid-Afrikaanse dorpe koester eersdaags veel meer as net ʼn idee vir gemeenskappe word.

Die reeks beoog om dorpe reg oor die land te besoek en mense te ontmoet wat ʼn plan én ʼn droom het om hulle gemeenskap te verbeter. Projekte wat aan Help ʼn dorp voorgelê kan word vir oorweging, sluit in:

  • gemeenskapsentrum
  • biblioteek
  • sportgeriewe
  • opleidingsentrum
  • hulp aan ʼn bestaande sentrum of organisasie wat die dorp se inwoners dien, soos ʼn skool, dierewelsynorganisasie of ouetehuis
  • gemeenskapstuin
  • herwinningsprojekte
  • opknapping van historiese gebou of toeristebesienswaardigheid
  • hernubare energieprojekte, soos byvoorbeeld sonkrag

Elke dorp moet deur ʼn komitee van inwoners benoem word wat die dorp en die droomprojek verteenwoordig, en komiteelede moet self vooraf die nodige toestemming bekom indien die projek op munisipale grond of op eiendom gaan bedryf word wat deur ’n derde party besit word.

Die reëls bepaal verder dat die droomprojek volhoubaar moet wees, dat die dorp in geheel daarby moet baat, en die projek binne vier weke ná goedkeuring uitgevoer en voltooi moet word. Die voorgestelde projek mag nie die maksimum begroting van R500 000 oorskry nie.

Faktore wat tydens die beoordeling in oorweging gebring word, is die projekvoorstel se volhoubaarheid, gemeenskapsbetrokkenheid en uitvoerbaarheid. Dertien dorpe sal eindelik as finaliste aangewys word.

Lottoland het reeds groot bydraes gemaak met die kykNET-goedvoelprogram, Dankie, Lottoland, waardeur miljoene rande aan instansies of mense in nood geskenk is. Dié maatskappy is vanjaar ook die hoofborg van kykNET se gewilde Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.

Besoek www.kyknet.tv vir meer inligting oor onder meer die bepalings en voorwaardes, of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Inskrywings sluit op 30 Junie om middernag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.