Reekse wat tydens die pandemie verfilm en op TV vertoon is, sal Dinsdag meeding om die gesogte Emmy-toekennings.
Die Netflix-reeks The Crown sal na verwagting in hierdie uitsonderlike jaar die botoon voer.
Die Television Academy se 25 000 kiesers het etlike maande tuis deurgebring, wat baie tyd gelaat het om ʼn verskeidenheid reekse te kyk.
Die benoemings vir die Emmys, TV se ekwivalent van die Oscars, sal regstreeks aangekondig word, waarna die eindronde van die stemmery vir die 73ste jaarlikse Emmy-toekennings sal begin. Die toekenningsgeleentheid vind in September plaas.
Pandemie-pandemonium
Met die aanvang van Covid-19 vroeg verlede jaar is daar halt geroep met verfilming en die skedules van televisieproduksies is ontwrig, wat beteken dat die getal Emmy-mededingers gedaal het.
Swaargewigte soos Netflix se koninklike drama The Crown kon daarin slaag om verfilming te voltooi kort voor die inperking, terwyl ander, insluitende Hulu se distopiese sage The Handmaid’s Tale, terug stel toe is toe die inperkingsmaatreëls gelig is.
Die gedwonge hiatus het ook beteken dat gewilde reekse soos Succession, wenner van verlede jaar se toekenning vir beste dramareeks, nie daarin kon slaag om betyds ʼn reeks vir vanjaar se toekennings te voltooi nie.
Dit het ruimte gelaat vir nuwelinge, veral in komedie, waar Michael Douglas se The Kominsky Method die enigste benoemde is wat verlede jaar ook benoem was.
Die wedloop vir beste komediereeks “gaan baie vars bloed hê”, het Libby Hill, IndieWire se televisietoekenningsredakteur, gesê.
“As dit jou werk is om ʼn idee te hê van wat volgende gaan gebeur, is ʼn jaar soos dié net pandemonium.”
Netflix se oog op topprys
In onlangse jare het Netflix vir HBO uitgestof in die stryd vir die meeste benoemings.
Volgens Hill sal die stromingsdiens se wonderbaarlike uitsette kwalik vanjaar verander. Sy beskryf die premium kanaal HBO as “’n niche kunsgalery teenoor Netflix se megapleks”.
ʼn Benoeming beteken egter nie noodwendig ʼn oorwinning nie en Netflix het nog nooit ʼn Emmy-toekenning vir beste dramareeks, beste komediereeks of beste beperkte reeks ingeoes nie.
Sal dit vanjaar anders wees? “Dit is meer waarskynlik vir The Crown vanjaar,” sê Hill, in die afwesigheid van vorige dramawenners Succession en Game of Thrones.
Netflix se kulturele fenomeen, The Queen’s Gambit, wat skaakbordverkope die hoogte laat inskiet het, sal na verwagting die toekennings vir beperkte reekse oorheers.
‘Nie so beperk’
Die Emmys se beperkte reeks- kategorie, vir reekse wat ná net een seisoen tot ʼn einde gekom het, het in onlangse jare meer kompeterend geraak en trek A-lys-bekendes na die kassie se mees gesogte projekte.
Vanjaar sal The Queen’s Gambit meeding teen formidabele kompetisie van Kate Winslet se moordraaisel Mare of Easttown, en die regisseur Barry Jenkins se verhaal The Underground Railroad.
Twee reekse wat in Londen se swart gemeenskappe delf, HBO se I May Destroy You, en Steve McQueen se Small Axe, ding ook vanjaar mee vir ʼn beeldjie.