Twaalf bekendes gaan die stryd aansê op die dansbaan

Tracey Lange (Foto: Instagram)

Twaalf onopgeleide plaaslike bekendes gaan van vroeg volgende jaar hul beste voetjie op die dansvloer voorsit wanneer die eerste aflewering van Dancing With the Stars op die kassie uitgesaai gaan word.

M-Net het vroeër bevestig dat ses bekende mans én ses bekende vroue onder leiding van twaalf professionele Latynse- en baldansers aan dié hoogsgewilde werklikheidsreeks gaan deelneem.

Die gewilde omroeper en televisieaanbieder Tracey Lange en die akteur Chris Jaftha is die aanbieders.

Lange, wat steeds as omroeper op die Kaapse HeartFM gehoor sal word én deel van die kykNET Bravo!-span sal wees, sê dié reeks beloof “vermaak uit die boonste rakke”. Sy sê aanhangers gaan ook tydens die loop van die reeks glanspersoonlikhede sien soos nog nooit vantevore nie.

“Ek sal miskien voortaan net meer puntenerig met my beplanning moet wees,” terg sy. “Omdat ek my program op die radio self vervaardig, help dit baie met vooruitbeplanning. Ek weet ook ek gaan baie ondersteuning kry van die Rapid Blue-span [die produksiehuis wat Dancing With the Stars vervaardig], wat my taak baie sal vergemaklik.”

Lange vertel sy het haar besonderhede op aanvraag vir die produksiemaatskappy gestuur sonder enige wete dat hulle haar vir ʼn aanbiedingsrol op dié program oorweeg. Die glanspersoonlikheid se tweede oudisie was teenoor Jaftha.

“Chris het ’n baie gemaklike manier en het hope selfvertroue, wat dit so maklik gemaak het om net met hom te speel op kamera. Hy was ook bereid om hele die proses te herhaal sodat ons mekaar selfs nog meer kanse kon gee om lekker teenoor mekaar te speel en om onsself te wees. Ek is seker dis wat die deurslag gegee het!”

Sy vertel hoewel sy nie ʼn opgeleide danser is nie, het sy ʼn besonderse bewondering vir dié kunsvorm – veral die uitrustings en hoe twee dansers dit keer op keer regkry om swierlik en grasieus op die maat van musiek te beweeg.

“Ek wens ek was ’n opgeleide danser en sal my oogtande gee om te kan dans soos Jenna Dewan [die Amerikaanse akteur Channing Tatum se vrou]. Ek het beslis ’n liefde vir dans en my ouma was boonop ’n goeie danser in haar jare. Ek sien uit daarna om nou baie te leer van die verskillende vorme van dans en die meer tegniese aspekte daarvan,” vertel sy.

Lani Lombard, M-Net-hoof van publisiteit, sê dié kanaal is oorstelp van opgewondenheid om dié program uit te saai. “Dancing with the stars gaan glansryk wees en boonop spog met baie drama en treffende oomblikke. Tracey en Chris is die perfekte pasmaats om dié program aan te bied. Hulle bring ʼn wonderlike atmosfeer na die program wat kykers opgewonde sal hou oor elke episode,” sê sy.

Dancing with the Stars, die oorspronklike program van BBC Worldwide, se televisieregte is al in meer as 50 lande wêreldwyd verkoop.

Engelbrecht sê die aanvanklike episodes sal regstreeks op M-Net uitgesaai word.

Vir meer inligting, besoek die M-Net-webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Uvonka ·

Ek kan nie wag nie! Om te kan dans is vir my soos asemhaal! Wens ek kon deelneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.