Twee duisende kwyt weens ‘7de Laan’-slenter

Foto: Facebook

ʼn Vrou van Dunnottar aan die Oos-Rand is duisende rande kwyt nadat sy in ʼn slenter gevang is waar misdadigers hulself as werknemers van die gewilde SABC2-sepie 7de Laan voorgedoen het.

Lezandra Strydom (28) het Donderdag aan Maroela Media vertel sy wil die “slegte ervaring” gebruik om ander voornemende akteurs te waarsku om nie in dié gat te trap nie.

Volgens Strydom het sy per e-pos met die sogenaamde bestuur van 7de Laan gekommunikeer in verband met ʼn oudisie wat sy vir dié sepie sou aflê. Haar stiefseun, Dylan de Villiers (19), het ook met die misdadigers per e-pos gekommunikeer waarin die verdagtes hom glo ook ʼn oudisie vir die sepie én ʼn akteursertifikaat belowe het. Dié sertifikaat sou glo sertifiseer dat De Villiers as akteur kon werk.

Strydom sê die slenter het hulle R4 500 uit die sak gejaag. Volgens haar het hulle op die dag van die oudisies by die 7de Laan-ateljee opgedaag, maar sy en De Villiers kon nié ʼn oudisie vir die program aflê nie omdat die bestuur van 7de Laan nie kennis gedra het van dié reëlings wat gemaak is nie.

“Ek dink bloot dit is onregverdig dat mense op só ’n manier gevang kan word – ons wil ander mense waarsku oor wat in die wêreld aangaan en dat hulle moet waaksaam wees om nie dieselfde as ons oor te kom nie. Dylan het nou ʼn toekoms in die akteursbedryf laat vaar omdat die hele vermaakbedryf in sy oë nou geloofwaardigheid verloor het. Dis ʼn slegte ervaring,” het sy gesê.

Die sepie het vroeër vandeesmaand gewaarsku teen dié slenter waar misdadigers hulself as ʼn uitvoerende vervaardiger of rolspeler van die sepie voordoen. ʼn Bestuurspan van die sepie het in ʼn verklaring gesê sogenaamde “vervaardigers” van die sepie steel glo geld by voornemende akteurs wat oudisies beloof word wanneer hulle ʼn betaling aan die persoon maak. Die misdadigers vra blykbaar “verskeie voorafbetalings” wat belangstellendes glo moet betaal voordat hulle ʼn oudisie kan aflê om moontlik ʼn rol in die Laan los te slaan.

Rosa-Marie Erasmus, ʼn woordvoerder vir 7de Laan, het aan Maroela Media gesê die bestuur dra geen kennis van oudisies of sertifikate wat met Strydom bespreek is nie. Sy sê dié voorval is baie soortgelyk aan die slenter waarteen die sepie gewaarsku het.

“Die persone wat die slenter dryf, weet in baie gevalle wat die name is van lede wat in ons bestuurspanne is. Hulle doen hulself dus voor as ʼn uitvoerende- of lynvervaardiger, ʼn direkteur, finansiële bestuurder of as hoof van rolverdeling. Mense moet op hul hoede wees vir dié slenter. Dit is meestal duidelik wanneer korrespondensie nie amptelik vanaf 7de Laan kom nie – jy sal byvoorbeeld nié ʼn e-pos van Danie Odendaal ontvang nie,” sê sy.

Erasmus sê daar is verskeie gevaartekens wat voornemende akteurs in gedagte moet hou wanneer hulle deur sogenaamde werknemers van die sepie gekontak word. “Ons sal nooit vir geld vra wanneer ons jou nooi na ʼn oudisie nie. In die min gevalle wat ons ʼn oudisie by die amptelike ateljee aflê, sal daar ook amptelike korrespondensie wees. In meeste gevalle vra ons die voornemende akteurs se agente om ʼn video van hulle oudisie in te stuur, waarna ons in kontak sal tree. Daar is ʼn hele deursigtige proses voordat iemand na die stel genooi word.”

7de Laan kan volgens die bestuur nié aanspreeklik gehou word vir enige geld wat aan die sindikaat oorbetaal is of vir enige optrede wat ʼn persoon se lewe in gevaar stel nie.

Indien jy wil seker maak oor die egtheid van enige korrespondensie wat glo van 7de Laan af kom, of só ’n geval van bedrog wil aanmeld, kan jy die sepie op Facebook of Twitter kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Erika ·

My logika se dat jy ‘n video sal moet instuur na die betrokke plek. Hoe anders gaan hulle weet dat jy kan toneelspeel. Moenie die bedryf die skuld gee nie. Toe hulle geld gevra het om jou’n “rol” te gee moes jy onmiddelik geweet het hier is ‘ n slang in die gras. Moet niemand vertrou nie en doen jou huiswerk. Dis ‘n les vir ons almal. Sterkte

christa ·

as jy in vandag se dae so maklik gevang kan word…. is dit jou beurt

Genieve ·

Gaan ons mense dan nooit leer nie. Elkedag word mense gewaarsku oor slenters.

lizl ·

Twee plekke waar jy deesdae nie WIL speel nie… In die Springbok span en 7de Laan !

bollie ·

Wat verstaan jy nie? Stiefseun, sy is nie die biologiese ma van die seun nie. Seker geskei en weer getroud met ‘n ander man wie se seun dit is (uit ‘n vorige huwelik).

Christa ·

MOENIE geld nerens inbetaal nie, jy word nie betaal sodat mense jou kan help nie!!!!!!!!! Gheee wizz gaan mense nooi leer nie!!!!

Stormrider ·

Ai tog, die memsdom se naarstigtlike soeke na roem en rykdom….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.