Tweede tranetrekkerdokkie oor Bok-oorwinning op pad

Die plakkaat vir ‘Chasing the Sun’ se eerste aflewering. (Foto: Showmax/Facebook)

Suid-Afrikaners gaan binnekort ʼn blik agter die skerms van die Springbokke se geskiedkundige oorwinning by die 2023 Wêreldrugbybekertoernooi kry.

SuperSport het Woensdag op X (voorheen Twitter) aangekondig dat ʼn vervolg van die kragtige dokumentêr, Chasing the Sun, in 2024 verwag word.

Nes die eerste weergawe, het SuperSport se kameraspan die Springbokke in Chasing the Sun 2 gevolg op hul reis om die Webb Ellis-troffee te lig.

Maroela Media het vroeër berig dat die eerste aflewering van Chasing the Sun uit ses aksiebelaaide episodes bestaan het, wat die sluier ’n bietjie meer oor Rassie Erasmus-hulle se suksesvolle Wêreldbeker-veldtog gelig het.

Kykers het eerstehands gehoor hoe die Springbokspan nie net opponente nie, maar ook moeilike onderwerpe soos verlies, politiek en professionele terugslae moes takel in hul 2019-reis na Wêreldbeker-glorie.

Aanhangers kan weer uitsien na eksklusiewe agter-die-skerms-beeldmateriaal en tranetrekker-oomblikke van die manne in groen-en-goud.

Met sy vier titels is Suid-Afrika die beste rugbyspan in Wêreldbeker-geskiedenis. Benewens hul jongste suksesverhaal, het die Springbokke ook in 1995, 2007 en 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.