Van Coke oor lewe ná ‘Toe vind ek jou’

Francois van Coke. (Foto: André Badenhorst)

Francois van Coke. (Foto: André Badenhorst)

Francois van Coke en Karen Zoid se groot trefferlied, “Toe vind ek jou”, is in April 2015 uitgereik en sedertdien kon luisteraars nie genoeg kry nie.

Dié liedjie het aanhangers só gaande dat dit op 1 Junie vanjaar die agt miljoen kykersmerk op YouTube verbygesteek het en daarmee een van die Afrikaanse musiekvideo’s is wat die meeste nog op YouTube gekyk is.

“Van die begin af het ek dadelik besef mense vind op ʼn massiewe manier aanklank by die liedjie,” vertel Van Coke vandag aan Maroela Media.

“Van die eerste dag af wat ons die liedjie uitgereik het, het mense vir my video’s gestuur van hulle kinders wat dit sing en daarna het soveel mense nuwe weergawes daarvan op die internet gelaai. Selfs laerskool-, hoërskool-, en universiteitskore het dit nou al gesing. Dit is net een van daai liedjies wat so uitgewerk het dat baie mense daarvan hou.”

Hy voeg by dat hy en Zoid nooit daarop uit was om ʼn treffer te skryf toe hulle saam aan dié liefdeslied gewerk het nie. “Ek wou net ʼn love song vir my vrou, Lauren, skryf, en Karen het my gehelp om die gedagtes en lirieke te vorm.”

Volgens Van Coke, wat naam gemaak het in die Afrikaanse musiekbedryf as die voorsanger vir die rockgroep Fokofpolisiekar en ook later vir Van Coke Kartel, het dié lied vir ʼn groot keerpunt in sy musiekloopbaan gesorg. Hy vertel laggend dat mense selfs nou hul kinders na sy vertonings toe bring.

“Mense het altyd vasgekyk in die naam Van Coke en die groep Fokofpolisiekar en omdat daar ʼn vloekwoord in die naam is, het mense dit altyd as iets negatief ervaar. Die groep se geskiedenis en wat die media vir die 13 jaar vóór ‘Toe vind ek jou’ oor my geskryf het, het ook tot mense se persepsie van my bygedra,” sê hy.

“Die liedjie saam met Karen het beslis deure in die Afrikaanse musiekbedryf vir my oopgemaak en my en my musiek meer aanvaarbaar vir soveel meer Afrikaanse musiekluisteraars gemaak. Dit het baie dinge vir my verander en ek is ongelooflik dankbaar dat ek deel is van dié liedjie.”

Francois en sy dogtertjie, Alex Lila. (Foto: Facebook via Francois van Coke)

Francois en sy dogtertjie, Alex Lila. (Foto: Facebook via Francois van Coke)

Buiten sy florerende loopbaan, is Van Coke nou ook pa van die skattige blondekop dogtertjie, Alex Lila, wat in November 2017 gebore is. Hy verklap dat hy tussendeur sy heen-en-weer-reise tussen Kaapstad en Johannesburg om vir die M-Net-realiteitsprogram, The Voice, as mentor en beoordelaar op te tree, ook besig is om aan sy derde solo-album te werk.

Sy selfgetitelde debuutsolo-album is in 2015 uitgereik en is opgevolg deur sy tweede treffersolo-album, Hierdie is die lewe, in 2017.

“As dit by solo-albums kom, is hierdie een miskien die swaarste, hoewel hy ook ʼn paar ballades insluit,” vertel Van Coke oor die klank van die jongste album. Hy sê hy het saam met groot name in die bedryf soos Hunter Kennedy, Riky Rick, en die jong rockgroep Spoegwolf aan dié album gewerk.

Hy vertel hy en Kennedy, liriekskrywer en kitaarspeler vir Fokofpolisiekar en Die Heuwels Fantasties, het deur hul loopbaan en vriendskap meer as 100 liedjies saam geskryf, maar dat die liedjie wat hulle vir dié album geskryf het, die eerste een is waaraan slegs hulle twee gewerk het.

“Dis nogal ʼn liedjie waaroor ek baie opgewonde is en dit gaan oor ons wat nou in die voorstede van Kaapstad bly,” sê Van Coke.

“Ek is ook ʼn groot aanhanger van die manne van Spoegwolf en hulle is, myns insiens, op die oomblik die mees opwindende jong rockgroep in Suid-Afrika.”

Die liedjie saam met Riky Rick, sy mede-beoordelaar op The Voice, is ʼn Engelse snit met ʼn hip-hop‑aanslag. “Dit is iets heeltemal anders vir ʼn Francois van Coke-album, eerstens omdat dit Engels is en tweedens omdat ons die hip-hop-element ingebring het. Ek het wel met dié album teruggekeer na my wortels en die musiek het ʼn groter punk-aanslag as voorheen in my solokapasiteit.”

Francois tree tans op as mentor en beoordelaar op 'The Voice'.

Francois tree tans op as mentor en beoordelaar op ‘The Voice’.

Hy verklap ook dat hy twee liedjies vir sy dogtertjie op dié album, wat in Oktober vanjaar uitgereik word, ingesluit het. “Ek dink ek gaan die album Bomskok Suburbia, noem. Dit is die working title. Ek het die liedjies op ʼn klomp plekke saam met verskillende vervaardigers opgeneem, onder meer saam met Theo Crous by Bellville Studios asook by Sunset Studios saam met Jürgen von Wechmar. Ek gaan ook nog musiek opneem saam met Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties by die Welcome to the Nothing Club-ateljee.”

Van Coke vertel hy het van die stemopnames gedoen in sy eie, splinternuwe ateljee, Van Coke Studios, wat hy saam met Jedd Kossew en Richard Onraet van sy groep, Die Gevaar, in Groenpunt in Kaapstad, geopen het. “Toe ek begin het met die derde album was daar nog nie sprake van die Van Coke-ateljee nie, maar ek sal beslis my volgende album daar opneem.”

Volgens Van Coke het hy nooit in sy wildste drome gedink dat hy sy eie ateljee sou hê nie. “ʼn Vriend van Jedd wou geld belê in een van sy projekte en Richard, wat kitaarlesse gegee het, wou graag iets aanpak waarop hy sy toekoms kan bou. Ons het toe besluit om saam die Van Coke Studios op die been te bring.

“Richard is ook ʼn ongelooflike vervaardiger en daarom sal hy die dag‑tot‑dag‑ingenieur wees wat die meerderheid van die opnames hanteer. Ek en Jedd sal nie van dag tot dag daar betrokke wees nie, maar wel wanneer iemand ons nodig het om te help skryf en vervaardig en ek is grootliks verantwoordelik vir die bemarking van die ateljee.”

Van Coke vertel dat sy betrokkenheid by The Voice baie meer werk is as wat hy aanvanklik gedink het dit gaan wees, maar dat hy elke oomblik daarvan geniet. “Ek werk met soveel talentvolle jong sangers en die beste deel daarvan is dat ek in aanraking kom met Suid-Afrikaners met wie my paaie andersins nooit sou kruis nie. Ek voel ek kan bydra tot hul loopbane met die ervaring wat ek al opgedoen het en ek hoop dat hulle almal suksesvolle loopbane in die musiekbedryf kan bou deur The Voice.”

Jedd Kossew, Francois en Richard Onraet van Die Gevaar en Van Coke Studios. (Foto: Jaco S. Venter/Facebook via Francois van Coke)

Jedd Kossew, Francois en Richard Onraet van Die Gevaar en Van Coke Studios. (Foto: Jaco S. Venter/Facebook via Francois van Coke)

Hy is in Julie op die verhoog te sien saam met Die Gevaar in twee Die Van Coke Show Live-vertonings. “Ons wou graag iets anders doen as ʼn gewone Francois van Coke-vertoning. Ons het met die kykNET-geselsprogram, Die Van Coke Show, ʼn klomp immergroen Afrikaanse liedjies opgeneem en wou graag ʼn vertoning daarvan maak. Ons doen natuurlik ons gewone liedjies ook.”

Van Coke en Die Gevaar sal onder meer liedjies soos “Liefling” deur Gé Korsten, “Geskeurde Jeans” deur Karlien van Jaarsveld, “Baby tjoklits” deur Gerhard Steyn en “Onder in my whisky glas” deur Koos Kombuis uitvoer.

Hulle is op 5 Julie by The Barnyard Theatre Rivonia en 6 Julie by The Barnyard Theatre Silverstar te sien. Kaartjies kos R165 en is hier beskikbaar.

Francois op die stel van 'Die Van Coke Show' saam met sy vrou, Lauren Badenhorst, en hul dogtertjie, Alex Lila. (Foto: Henry Engelbrecht/Facebook via Francois van Coke)

Francois op die stel van ‘Die Van Coke Show’ saam met sy vrou, Lauren Badenhorst, en hul dogtertjie, Alex Lila. (Foto: Henry Engelbrecht/Facebook via Francois van Coke)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sonja Alberts ·

Dit bly n stunning liedtjie!!!!!!Well done Francois en Karen Zoid met die trffer!!!!

Bul ·

Asseblief tog – wannabee hasbeen afrikaanse rockers. Kyk na Piet Botha – dit was ‘n afrikaanse rocker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.