Vanes-Mari du Toit: ‘Wat jy sien is wat jy kry’

Vanes-Mari du Toit kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Met haar lenige lyf van 1,89 meter lank, helder blou oë en skitterblink glimlag kon Vanes-Mari du Toit maklik as ʼn model op die internasionale loopplanke van Milan of Parys verskyn het of selfs op die voorblaaie van modetydskrifte gepryk het.

Tog het dié langbeenatleet die wêreld deurkruis as deel van die Protea-netbalspan voordat haar borrelende, wat-jy-sien-is-wat-jy-kry-persoonlikheid van haar ʼn gewilde deelnemer onder MNet se Dancing with the stars-aanhangers gemaak het.

Daarna het Du Toit (30) al hoe meer op die kassie begin verskyn – eers as veldaanbieder vir kykNET se leefstylprogram Kwêla en toe as aanbieder van die kykNET-program In Japan Ja, waar sy saam met Hamilton Wessels besoek aan Japan afgelê het tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi verlede jaar.

Sy is ook nou te sien as aanbieder van die splinternuwe kykNET-maatsoekreeks Hoor my, sien my, soen my.

In dié reeks bring Du Toit en een deelnemer ʼn ongewone dag saam met drie potensiële pasmaats deur en beleef die dag deur hulle oë, want dié pasmaats dra elkeen ʼn lyfkamera. Die deelnemer kan met die pasmaats gesels en flankeer, maar hulle kan mekaar nooit sien nie. Aan die einde van die dag moet die deelnemer nét een kies om mee saam op ʼn afspraak te gaan.

Oor haar nuwe rol as kykNET se nuutste Kupido, is Du Toit baie opgewonde. “Ek is ʼn groot aanhanger van die liefde. Aan die einde van die dag oorkom liefde alles. Dit staan in die Bybel só geskryf en ek glo dit met my hele hart. Jy kan enigiets red met die liefde.”

Sy vertel dit is vir haar lekker om te hoor as die paartjies, wat mekaar op dié onkonvensionele manier ontmoet, steeds kontak het of bymekaar is. “Dit is die lekkerste gevoel om ander mense gelukkig te sien.”

Vanes-Mari is die aanbieder van die nuwe kykNET-program ‘Hoor my, sien my, soen my’. (Foto: Facebook)

Oor onkonvensionele liefde kan jy Du Toit niks vertel nie: Sy en Matt Proudfoot is reeds ses jaar ʼn paartjie waarvan hulle nou bykans twee jaar dolgelukkig getroud is. Proudfoot (47) was die voorryafrigter tydens die Springbokke se sege in die Wêreldbeker-rugbytoernooi verlede jaar en is tans in Engeland waar hy vir die volgende vier jaar saam met Eddie Jones die Rose afrig.

Al is hulle baie tyd weg van mekaar as gevolg van werksverpligtinge, is dié twee mekaar se grootste ondersteuners en steunpilare. Daarom het sy ook besluit om in Suid-Afrika agter te bly om haar eie televisiedrome op eie bodem na te jaag.

“My hart is hier in Suid-Afrika. My man het ʼn kontrak gekry om oorsee te gaan werk, maar dit beteken nie noodwendig dat ek ook nou moet verhuis nie. Ek en Matt wil albei hê dat die ander een goed moet doen in ons individuele kapasiteit. Hy is baie ten gunste daarvan dat ek ook my beroep moet nastreef. Ons sal baie heen en weer pendel tussen Suid-Afrika en Engeland,” verduidelik sy.

Selfs dié twee se ontmoeting is nie hoe ʼn gewone liefdesverhaal gewoonlik klink nie. Sy vertel hulle het mekaar vlugtig ontmoet tydens ʼn netbalkliniek wat sy in 2013 in die Kaap aangebied het. Hulle het egter by wyse van sosiale media kontak behou en met die aanvang van haar honneursgraad in industriële sielkunde op Stellenbosch, het hulle op ʼn eerste afspraak gegaan.

Die liefdeskoeël was hierna deur die kerk, hoewel sy bieg sy het nie gedink hul paadjie sal tot voor die kansel lei nie.

“Ons het vir die eerste paar maande net oor WhatsApp of telefoonoproepe gesels, en dit is ook hoe Hoor my, sien my, soen my werk, nè?” vertel sy borrelend.

Vanes-Mari en haar man, Matt Proudfoot, in November verlede jaar tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan. (Foto: Facebook)

“Jy leer iemand eers beter ken voor jy hulle fisiek kan sien of van aangesig tot aangesig leer ken. Hy was in die Kaap en ek was in Pretoria en vir ʼn hele paar maande het ons net gesels en ons eerste afspraak was eers ʼn hele paar maande nadat ons mekaar ontmoet het.

“Dit was die beste eerste date ooit – ek het geweet hy gaan ʼn baie groot rol in my lewe speel en iemand wees wat vir die res van my lewe deel daarvan sal wees. Ek kan myself nie indink om saam met enigiemand anders te wees nie.”

Sy gee toe dat dit nie altyd maklik is om weg te wees van haar man af nie. “Dit is ʼn opoffering wat ons maak, want hy moet doen wat hy moet doen en hy moet nou eers sy voete in Engeland vind. As ons mekaar sien, sien ons mekaar vir kwaliteittyd en dan kan ons diep delf en oop maak teenoor mekaar.”

Du Toit sê dat mense gereeld kommentaar lewer oor die moderne manier waarop sy en Proudfoot, wat ʼn ouderdomsverskil van 17 jaar tussen hulle het, hul huwelik benader, maar dat sy probeer om haar nie daaraan te steur nie.

“As ek nou regtig moet aangaan oor hoe modern my lewe werklik is – ek het twee halfboeties wat so oud is soos Matt se dogter, so my stiefdogter is so oud soos my broer. Dit is mý perfekte familie en ek sal dit geen ander manier wil hê nie! Met ons is dit wat jy sien, presies wat jy kry!”

  • Hoor my, sien my, soen my saai Woensdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uit. 
  • Vanes-Mari du Toit het in die Maroela Media-ateljee met Leonie Bezuidenhout gesels. Luister bo aan die berig na die volle onderhoud.

Maroela Media het vir Vanes-Mari 20 vinnige vrae gevra. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.