Vanjaar se Golden Globe-benoemings bekend

Die Golden Globe-beeldjies word op 28 Februarie vanjaar uitgedeel. (Foto: Facebook/Golden Globes)

Die benoemings vir die 78ste jaarlikse Golden Globe-toekennings, wat die room van die internasionale rolprent- en televisiebedryf vereer, is Woensdag bekend gemaak.

Netflix loop voor met die meeste benoemings in die rolprent- én televisiekategorieë. Die rolprent Mank, met Gary Oldman en Lily Collins, is vir ses toekennings benoem.

Oldman is benoem vir beste akteur in ʼn rolprent (drama) vir sy rol as draaiboekskrywer Herman J Mankiewicz. Mank is ook onder meer benoem in die kategorieë vir beste rolprent (drama) en beste draaiboek vir skrywer Jack Fincher.

The Trial of the Chicago 7 het vyf benoemings gekry vir onder meer beste rolprent (drama), beste draaiboek vir Aaron Sorkin en beste oorspronklike liedjie getiteld “Hear my voice” deur die sangeres Celeste.

The Crown, met ses, en Schitt’s Creek, met vyf, het die meeste benoemings in die televisiekategorieë gekry.

Olivia Colman, wat die rol van koningin Elizabeth II in die derde en vierde seisoene van The Crown vertolk, is saam met Emma Corrin, wat in die rol van prinses Diana te sien is, benoem in die kategorie vir beste aktrise in ʼn televisiereeks (drama).

Tina Fey en Amy Poehler op die Golden Globes-toekenningsgeleentheid in 2014. Hulle sal vanjaar weer as aanbieders optree. (Foto: Chris Delmas/AFP)

Die akteurs Eugene Levy, sy seun Daniel Levy, en aktrises Catherine O’Hara en Annie Murphy is benoem vir hulle hoofrolle in Schitt’s Creek.

Nicole Kidman en Hugh Grant is benoem in die kategorie vir beperkte reekse vir hulle rolle in The Undoing.

Reekse soos Emily in Paris, Ozark, The Flight Attendant en The Queen’s Gambit is ook vir ʼn rits toekennings benoem.

James Corden is benoem vir sy ondersteunende rol in die musiekblyspel The Prom. The Midnight Sky, Tenet, News of the World en Mank se oorspronklike klankbane is ook benoem.

Die toekenningsgeleentheid vind op 28 Februarie plaas en word vir die vierde keer aangebied deur die grapjasaktrises Tina Fey en Amy Poehler.

Jane Fonda. (Foto: Facebook/Golden Globes/John Russo)

Die geleentheid sal aanlyn aangebied word, met Fey regstreeks vanuit die Rainbow Room in New York en Poehler vanuit die Beverly Hilton-hotel in Beverly Hills. Benoemdes sal van oor die wêreld inskakel.

Regina King (vir One Night in Miami), Chloe Zhao (vir Nomadland) en Emerald Fennell (vir Promising Young Woman) is in die kategorie vir beste regisseur benoem. Fennell het ook die rol van Camilla Parker-Bowles in The Crown vertolk.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die toekenningsgeleentheid dat drie vroue in dieselfde jaar in die kategorie vir beste regisseur benoem is. Slegs vyf vroueregisseurs is in die afgelope 77 jaar in dié kategorie benoem.

Jane Fonda sal vanjaar met die Cecil B deMille-toekenning vereer word vir haar lewenslange bydrae tot die rolprent- en televisiebedryf.

Hier is ʼn volledige lys van die benoemings.

Bronne: CNN, BBC, Golden Globes.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.