‘Vat ʼn kans’ jongste aflewering in #JouSondagDrama-rolprentreeks

kykNET se splinternuwe #JouSondagDrama-rolprentreeks het kykers die afgelope twee Sondae geboei met die rolprente Desember en Deon Opperman se Stille nag. Vandeesweek word dié reeks van 13 alleenstaande rolprente hervat met die romantiese komedie, Vat ʼn kans.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute asook debuutregisseurs is die geleentheid gegee om elkeen ʼn paar flieks se regie te behartig. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Deon Meyer se kortverhaal Bottervisse in die jêm is onder meer tot ʼn rolprent verwerk en dit maak ook deel uit van die #JouSondagDrama-reeks. Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Sharleen Surtie Richards en Armand Aucamp. Daar is ook gebruik gemaak van jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs.

Vat ʼn kans, uit die pen van Igna Botha, vertel die verhaal van Lisa (Natassja Pretorius), ʼn 32-jarige suksesvolle produksiebestuurder van ʼn toonaangewende werklikheidsreeks.

Terwyl die land se hubaarste vrygeselle in dié werklikheidsreeks hul kans op die liefde waag, is Lisa se eie liefdeslewe net ʼn lang lys van mislukkings.

Maar dan begin die volgende seisoen van die reeks en die nuutste deelnemer, Christo Dippenaar (Stefan Vermaak), ʼn sjarmante jong boer, steel Lisa se hart.

Die liefde dwing Lisa om vir die eerste keer buite die perfekte boksie van haar lewe te trap. Sy besluit om onder ʼn skuilnaam vir haar eie program in te skryf. Met behulp van die regisseur, Wouter (Hannes Brümmer), vermom sy haarself.

Lisa het drie dae om Christo te oortuig dat sy die vrou van sy drome is. Haar taak word egter bemoeilik deur die ander twee dames wat ook om Christo se hart veg.

Amalia Uys, Ansu Visser, Nadia Beukes en Angelique Gerber is ook in dié komiese liefdesverhaal te sien.

Die draaiboek is deur Igna Botha geskryf en André Velts was die regisseur. Die Vat ʼn kans-temalied word deur Candy Benson gesing.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.