Veelsydige Louw het groot planne

Louw Venter in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

Louw Venter, ook ’n uiters talentvolle skrywer en regisseur, is een van die gasspelers in die sesde episode van die kykNET-dramareeks Projek Dina.

Vertel ons meer van jou karakter, Stanley Roux. Hoe het jy hom geskep?

Soos alle karakters is hy ’n bietjie van my en ’n bietjie van die wêreld waarin ek grootgeword het.

Was dit moeilik om die karakter te skep sonder om te veel van die storielyn weg te gee?

Nee wat. Die karakter is net “in die oomblik”. Solank ek getrou aan daardie impuls bly en die regisseur se leiding volg, is alles oukei.

Louw Venter in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Jy is self ’n pa. Wat is die belangrikste lesse wat jy jou kinders leer?

Ek probeer gelukkig wees en na aan my beginsels te lewe. Ek hoop my kinders kan iets daaruit leer.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek skiet later vanjaar my tweede fliek waarvan ek regisseur is en hou myself intussen besig met ander regiewerk. [Louw was die skrywer en regisseur van Stam, wat in 2020 die toekenning as beste Suid-Afrikaanse rolprent op die Durban Internasionale-rolprentfees gewen het.]

Is daar ’n groot projek wat jy nog graag wil aanpak?

Absoluut. Ek het ten minste twee vollengte rolprente wat ek geskryf het en wat ek tans aan die gang probeer kry.

Wat sal jy graag aan die vermaakbedryf wil verander?

Ek sou graag wil sien dat akteurs meer besit kan neem oor die werk wat hulle doen en aanhou om ʼn bietjie geld te verdien wanneer ʼn fliek of reeks sy eie lewe kry. Ek hou ook daarvan om meer vroue in die rol van regisseur, hoof van kinematografie, vervaardiger ensovoorts te sien.

Louw Venter en Marguerite van Eeden in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

Komedie of drama?

Wat is die verskil?

Jy en Rob van Vuuren het onlangs weer ’n Corné & Twakkie-vertoning gedoen. Beplan julle nog optredes?

Ja! Ons doen weer ons jongste vertoning Woensdagaand 6 April in die Kalk Bay Theatre in Kalkbaai. Om te sien wanneer ons weer daar optree, gaan na www.kalkbaytheatre.co.za.

Wat is jou lewensleuse?

Ek het nie ’n leuse nie, maar ek glo in die krag van liefde en menslikheid.

Projek Dina is Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.