Verligting toe dié speler ‘Die Brug’ groet

Avril en Jamie. (Foto: verskaf)

Alhoewel Jamie gesukkel het om haar emosies te beheer met Avril se uittog in die jongste episode van Die Brug, het Larry gesê wat die meeste van die deelnemers gevoel het: “Good riddance.”

In vanaand (30 November) se episode van kykNET se avontuur-werklikheidsprogram, Die Brug, is die mat ʼn hele paar keer onder die spelers se voete uitgeruk.

Die drie spelers wat hulself as die nuwe leier van die groep voorgestel het, Sam, Jamie en William, moes koppe saamsit om te besluit wie huis toe gestuur gaan word. Dié besluit was besonders moeilik vir Jamie, wat gedurende haar tyd in die spel ʼn noue verhouding met die voormalige leier, Avril, gekoester het. Op die ou end was dit Sam wat voorgestel het dat Avril huis toe gestuur word, iets waarmee William ten volle saamgestem het.

Avril het egter nie haar tasse in stilte gepak nie. Sy het met ʼn lukrake raaiskoot ʼn bondgenootskap tussen Geo, Tina en Iana geïdentifiseer en aan die res van spelers ontbloot, hoewel niemand dié afskeidsboodskap ernstig opgeneem het nie.

Avril het ‘Die Brug’ gegroet. (Foto: verskaf)

Haar laaste boodskap voordat sy op ʼn boot by die houthuis weg is, was aan Jamie: “Moet niemand vertrou nie.”

Dié boodskap het innerlike verwarring by Jamie meegebring, wat ná Avril se uittog haarself byna heeltemal van groepaktiwiteite onttrek het.

Die spelers het goed gevorder met die bou van hul vlotte, en kon uiteindelik ʼn hele paar veilige vlotte die water instuur. Dit was natuurlik totdat ʼn tweede fakkel hul verras het: daar is nuus, iemand word op ʼn avontuur weggestuur.

Geo en die nuwe leier van die groep, Sam, is gestuur om die boodskap te gaan haal. Geo het reeds in die roeiboot ʼn boodskap in Sam se oor gefluister: iemand gaan weggestuur word, en dit sal goed wees om Tina en Iana op dié avontuur te stuur.

Dit is presies ook wat gebeur het. Sam moes drie spelers kies om op ʼn staptog te gaan, aan die einde van dié tog sou ʼn verrassing op die spelers wag. Sam het nie geskroom om Geo se raad te volg nie: Iana, Tina en Nonnie is gekies om hul stapskoene nader te hark.

Ná dié drie vroue se tog deur bosse en klippe, het hulle uiteindelik by hul “skatkis” uitgekom. Dié skat was egter nie sonder ʼn kinkel in die kabel nie – hulle moes net daar en dan iemand tussen die drie van hulle kies om huis toe te stuur.

Wie dié persoon is, sal in volgende week se episode van Die Brug bekendgemaak word.

  • Die Brug word Donderdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ore ·

Jamie het liewer in stilte besluit om nie haar kandidaat se naam te noem nie. Geen bespreking nie, net saamgestem en agterna gehuil. Sy kon mos vir Avril beskerm het maar het nie. Dit is duidelik dat niemand vertrou kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.