Veteraan-akteurs in nuwe kykNET-komediereeks

Die rolverdeling van 'Lui maar op, Belinda'. Agter van links na regs is Wian Taljaard, Carmen Maarman en Eric Nobbs. Voor van links na regs is Annelisa Weiland, Duncan Johnson en Brümilda van Rensburg.

Die rolverdeling van ‘Lui maar op, Belinda’. Agter van links na regs is Wian Taljaard, Carmen Maarman en Eric Nobbs. Voor van links na regs is Annelisa Weiland, Duncan Johnson en Brümilda van Rensburg.

Verskeie veteraan-akteurs van Afrikaanse televisie snoer kragte saam vir ʼn opwindende nuwe kykNET-komedie getiteld Lui maar op, Belinda.

Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland, Eric Nobbs, Duncan Johnson en Carmen Maarman is te sien in dié splinternuwe televisiereeks wat afspeel in George in die Wes-Kaap.

“Ian en Ander” is ʼn klein hoekwinkeltjie en behoort aan Ian Jantjies, vertolk deur Duncan Johnson, ʼn middeljarige man wat die gejaag van die groot stad vir die vrede van ʼn kleiner dorp verruil het. Vrede is daar egter nie, want die drie “ouer” mense wat vir hom werk, maak hom grys.

Belinda Swanepoel, vertolk deur Brümilda van Rensburg, is ʼn eertydse Afrikaanse aktrise en is meer voor haar spieëltjie as voor haar kasregister. Annetjie Nel, gespeel deur Annelisa Weiland, is ʼn militaristiese en konserwatiewe bakster wat haarself meer bemoei met die winkel se sake as met die koek van die dag.

Dan is daar die arme, sjarmante boereheld Frans Wessels, gespeel deur Eric Nobbs, wat die vrede tussen Annetjie en Belinda probeer bewaar, maar selde daarin slaag, terwyl die jongste aanstelling, die jong bleeksiel, Dirkie, gespeel deur Wian Taljaard, skielik hoof van sekuriteit word.

Maggie, Ian se vrou, vertolk deur Carmen Maarman, kom steek ook nog haar neus in haar man se sake. Saam moet hulle die uitdagings van die ouderdom die hoof bied, maar ook leer dat die lewe vol tweede kanse is en dat ʼn mens nooit te oud is om pret te hê nie.

Dit is die eerste keer dat Van Rensburg en Weiland, wat veral geliefd geraak het vir hul onderskeie sepierolle, saam in ʼn televisiereeks speel. Dit is ook Taljaard se eerste hoofrol in ʼn reeks.

Boonop gaan verskeie bekende akteurs soos Marion Holm, Denise Newman, Therese Bam en Hannes van Wyk gasverskynings maak.

Die hoofskrywer van Lui maar op, Belinda is Chris Vorster, wat tans te sien is in die kykNET-drama Spreeus. Die opkomende skrywer, Marcel Spaumer, het met die storie-idee vorendag gekom. Die aktrise Desiré Gardner, van Binnelanders en Suidooster-faam, en Wesssel Pretorius is mede-skrywers van dié nuwe reeks.

Die regisseur is Corné van Rooyen, wat die regie vir flieks en reekse soos Hollywood in my huis, Vaselinetjie, Liewe Kersfeesvader en die nuwe kykNET-reeks Alles Malan behartig het.

Lui maar op, Belinda word op stel in ʼn ateljee geskiet by Atlantic Studios in Kaapstad, wat ook die tuiste is van kykNET-reekse soos Suidooster, Kokkedoor, Tussen ons en Kwêla. Homebrew Films is die vervaardiger.

Lui maar op, Belinda begin op Maandag 8 Julie om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

A Mac ·

Sal nogal geniet om iets anders op tv te sien as die norm wat daar deesdae is. Laat ons maar wag en kyk hoe die storie afloop voor ons begin om akteurs af te maak. Nie almal wil altyd Mollie en Wors of Jollie en Ouboet kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.