Veteraanakteurs in e.tv se eerste Afrikaanse sepie te sien

Sandra Prinsloo, Nic de Jager en Brümilda van Rensburg. (Foto: verskaf)

As dit Afrikaanse kykstof is waarna jy op soek is, gaan jy dit binnekort op e.tv kry.

e.tv se eerste Afrikaanse en plaaslik vervaardigde daaglikse sepie, Kelders van geheime, tref in Mei vanjaar die kassie en spog met ʼn rits bekende gesigte, onder wie veteraanakteurs soos Nic de Jager, Sandra Prinsloo, Vinette Ebrahim en Geon Nel.

Vervaardiging van dié sepie het Januarie vanjaar in Franschhoek afgeskop. Dit handel oor die weë van ʼn gemeenskap wat op Soebatskloof, ʼn wynplaas in die Boland, woon.

“eMedia se oorgeklankte Afrikaanse inhoud is baie goed ontvang deur gehore reg oor Suid-Afrika, en ons is opgewonde om iets eie aan die land aan ons gehoor te bied, waarmee hulle sal kan vereenselwig,” sê Helga Palmer, groephoof van inhoudontwikkeling by e.tv.

“Daar is ʼn groot aanvraag vir plaaslike Afrikaanse inhoud, en eMedia het geluister na sy Afrikaanssprekende gehoor. Die reeks sal nostalgie teweegbring met die Afrikaanse veterane wat deel is van die rolverdeling, maar dit bring ook vars gesigte, nuwe talent en ʼn ander wêreld wat nog nooit verken is in ons plaaslike, daaglikse dramas nie.”

Die sepie draai om die Abrahams-, Systers- en Marais-gesinne. Dié drie gesinne is gevul met bekende gesigte wat deur die jare heen dikwels op die kassie gekuier het.

Die Abrahams-gesin

Edmund Abrahams (Duane Williams) is die wynmaker op Soebatskloof, en Nenna Abrahams (Vinette Ebrahim) is die afgetrede huishoudster en gasvryheidsbestuurder wat Edmund “ma” noem.

Vinette Ebrahim en Duane Williams. (Foto: verskaf)

Die Systers-huishouding

Joey Syster (Cedwyn Joel) is die patriarg van die Syster-familie en woon en werk al sy hele lewe op Soebatskloof. Sandy (Riana Alfreds) is Joey se dogter en het Nenna se verantwoordelikhede oorgeneem. Sandy se oudste dogter, Debbie-Lee (Veronique Jephtas), werk saam met haar, terwyl haar jongste, Shireen (Vashti Prins), haarself vestig as ʼn algemene praktisyn in die Wynland. Phillip Smith (Dean Balie) is die man in Debbie-Lee se lewe.

Die Marais-familie

Die Marais-familie bly al vir dekades op Soebatskloof. Charl Marais Senior (Nic de Jager) is die eienaar van die wynplaas, terwyl sy tweede vrou, Hermien Marais (Sandra Prinsloo), haarself met beeldhouwerk besig hou.

Illse Roos, Zak Hendrikz, Abduragman Adams en Marcel van Heerden. (Foto: verskaf)

Tjoppie Marais (Geon Nel) is Hermien se seun uit haar eerste huwelik. Tjoppie het saam met Charl Senior se kinders uit sy eerste huwelik grootgeword. Charl Marais Junior (David Chevers) woon in Londen, en Annette Fourie (Ashley de Lange) bly in Australië saam met haar rugbyspeler-man, Du Toit Fourie (Zak Hendrikz). Lynn Fourie (Illse Roos) is Du Toit se “sosiale vlinder van die Wynlande”-soort mamma.

Veronique (Rushney Ferguson), Tjoppie se vrou, is die bestuurder van die restaurant op die plaas. CJ (Angelo Johnson), die egpaar se oudste kind, is vanjaar ʼn matrikulant aan Simonsvallei Gimnasium, waar Marco (Angelo Bergh), die egpaar se jongste, nou in graad 11 is.

  • Kelders van geheime sal in Mei vanjaar op e.tv uitgesaai word. Dit sal weekliks van Maandag tot Vrydag op die kassie wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.