VIA kies koers Hollywood toe met nuwe werklikheidsreeks

Wian Smith en Riaan Grobler in Hollywood. (Foto: Verskaf)

Wian Smith en Riaan Grobler in Hollywood. (Foto: Verskaf)

ʼn Splinternuwe werklikheidsreeks, wat Suid-Afrika en Namibië se spanne kunstenaars volg waar hulle vroeër vanjaar aan die Wêreldkampioenskap van Uitvoerende Kunste (WCOPA) in Los Angeles in die VSA deelgeneem het, is binnekort op VIA te sien.

VIA-kykers kry met Hollywood hier kom ek! die geleentheid om te beleef hoe dié twee spanne by die WCOPA gevaar het. Los Angeles word, in aanloop tot die groot finale by die Performing Arts Centre-ouditorium in Long Beach, platgetoer en verken.

Riaan Grobler van Pretoria FM en Wian Smith het as aanbieders en medevervaardigers van die program saam met dié twee spanne gereis en alles op kamera vasgevang. Hulle lê besoeke af aan onder meer die Hollywood Walk of Fame, Beverly Hills se Rodeo Drive, die Beverley Hills Hotel, Universal Studios en Disneyland.

Wian en Riaan gesels met die akteurspaar James en Anel Alexander, wat in Los Angeles woon. (Foto: Verskaf)

Wian en Riaan gesels met die akteurspaar James en Anel Alexander, wat in Los Angeles woon. (Foto: Verskaf)

Smith het aan Maroela Media vertel hy het as jong seun altyd daarvan gedroom om Hollywood te sien. “Dit was ʼn ongelooflike ervaring, maar ek het besef dat Suid-Afrika nét so mooi is soos Los Angeles en die VSA, al is hulle ons tegnologies ver vooruit!”

Hy vertel hy en Grobler het ʼn draai gemaak by ʼn hele rits Suid-Afrikaanse bekendes wat nou in Los Angeles probeer naam maak. “Ons het saam met James en Anel Alexander gekuier. James vaar verskriklik goed en het onlangs saam met Keanu Reeves in ʼn fliek gespeel.

“Ons het ook by Robbie Klay, wat al so ses jaar daar woon, gekuier en tyd saam met Chris van Heerden, die wêreldkampioenbokser, deurgebring. Ons het ʼn kuiertjie saam met Charlize Theron net-net misgeloop – sy het ʼn dag of twee voordat ons by Chris gekuier het, by hom ingeloer!”

Wian by Celine Dion se ster op die Hollywood Walk of Fame. (Foto: Verskaf)

Wian by Celine Dion se ster op die Hollywood Walk of Fame. (Foto: Verskaf)

Smith vertel die konsep vir die program het by hom en Grobler posgevat toe hulle geskerts het oor hoe lekker dit sou wees om die kompetisie op kamera vas te lê. “Riaan behartig al bykans drie jaar die skakelwerk vir die WCOPA en sou dit in elk geval bywoon. Omdat ons saam programme, soos Boerekos met ʼn twist, vir VIA vervaardig het, het ons begin speel met die idee om ʼn program oor die WCOPA te maak.”

Bekende sangers soos Elizma Theron en Kevin Leo het ook al deelgeneem aan dié kampioenskapsreeks. “Min mense weet egter van die kompetisie en ons wou graag ʼn program vervaardig wat die kinkels agter die skerms wys, asook die knaende senuwees en selfs die oordadige ouers,” lag Smith.

“Daar was vantevore al selfs ʼn meisie wat ʼn ander een se rok geskeur het, so daar gebeur baie interessante dinge tydens die kompetisie.”

ʼn Paar Suid-Afrikaanse deelnemers word ook internasionale kontrakte aangebied.

Skakel in vanaf 30 Oktober om 17:00, net op VIA, DStv-kanaal 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.