Video: ‘Glam Guru’ se Lizel wil vroue help om hul ‘krone’ reg te skuif

Lizel van der Westhuizen in haar ateljee. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hoewel sy bekend is vir haar werk as voorkomskonsultant en modestilis op kykNET se mooimaakprogram Glam Guru, weet Lizel van der Westhuizen egter ook hoe dit is om soms “nie mooi genoeg” te voel nie.

Die eienaar van Full Circle Image Consulting en ma van twee het onlangs aan Maroela Media vertel dat sy egter eers op haar eie voorkomsreis moes gaan voor sy vir haar naam as topstilis en voorkomskonsultant gemaak het.

Van der Westhuizen, wat voorheen in menslike hulpbronbestuur gewerk het, sê dat sy na die geboorte van haar eerste dogtertjie probeer het om haar lyf tuisblyma te hou, maar vinnig besef het dat sy “glad nie die persoonlikheid daarvoor het nie”.

“Ek het aan nageboortedepressie gely en baie mense het dit probeer afskiet deur te sê dis net die aanpassing van ʼn ouer vir die eerste keer word en dat ek nog sal leer en my voete sal vind. Maar ek het geweet dis meer as net dit.”

Die beeldskone donkerkop, wat vandag altyd deur ʼn ring getrek kan word, erken dat sy destyds in ʼn voorkomsgroef verval het. “Ek het in sweetpakke gelewe, ek het opgehou om my hare te kleur en naels te doen. Ek het regtig gesukkel en gevoel ek is nie ʼn tuisblyma nie, maar het ook nie geweet of ek weer die korporatiewe wêreld kon betree nie. Ek het eintlik eenvoudig nie meer geweet wie of wat ek is nie.”

Haar man het haar egter gehelp om haar prioriteite in oënskou te neem en haar aangemoedig om haar werklike passie te ontdek. “Hy het eendag op ʼn baie liefdevolle manier vir my gesê dat die persoon wat ek in daardie stadium was en wie ek eintlik is, glad nie ooreenstem nie en ek besluit toe dat dit tyd was om myself te herontdek.”

Sy het gevolglik haar jarelange belangstelling in voorkoms en mode, die kennis wat sy deur menslike hulpbronbestuur opgedoen het en haar passie vir vroue saamgesnoer deur ʼn voorkomskonsultasiekursus te doen. Die res is natuurlik geskiedenis.

“Danksy my beroepsagtergrond weet ek hoe belangrik ʼn goeie eerste indruk is. Jou voorkoms – wat jou kleredrag en versorging insluit – is jou visuele CV en kan óf jou reputasie as ʼn bekwame en professionele persoon ondersteun óf dit ondermyn.”

Benewens haar werk as voorkomskonsultant en Glam Guru-stilis het sy onlangs ook aangekondig dat sy op 4 Mei vanjaar ʼn plusgrootte-modereeks (tussen nommers 38 en 46) vir vroue bekend gaan stel.

Sy benadruk egter dat haar werk as voorkomskonsultant, wat maklik as ʼn oppervlakkige beroep uitgekryt kan word, vir haar oor “mooi voel” en nie net “mooi lyk” gaan nie.

“Ons as vroue het soveel balle wat ons in die lug moet hou. Jy moet ma wees, vrou wees, ʼn loopbaan hê en gevolglik vergeet ons van onsself en ons ‘krone’ gaan sit dan skeef op ons koppe. Ek wou vroue gerusstel dat dit oukei is om na jouself en jou voorkoms om te sien en dat hulle met min moeite weer mooi kan lyk én voel.”

In ʼn nuwe videoreeks wat binnekort op Maroela Media bekendgestel word, deel sy ook graag haar top-modewenke vir die wintermaande, onder meer hoe jy items uit jou somerskas op kouer dae kan benut, watter kledingstukke “moet-hê-items” vir die winter is en watter items jy vanjaar liefs moet laat vaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.